Hartseer tyd vir Snyman-gesin

Shaun Snyman sê hy en sy vrou Louise is erg depressief.

Om jou babaseun van ses weke hulpeloos in die Neonatale Intensiewe Sorgeenheid te sien lê is baie moeilik, maar om te weet dat sy prognose taamlik ongunstig is, maak dit nog erger.

Die spanning en uitputting is duidelik op Shaun Snyman, 31, se gesig. Sy vrou, Louise, 33, is onder verdowing geplaas en kon nie met die Record praat nie.

Lees ook: Baba in eiendomsagent se kar gebore

Volgens Shaun het Louise se swangerskap goed verloop – tot en met 30 weke. “Louise se baarmoeder en die plasenta het aanmekaar vasgegroei wat veroorsaak het dat haar bloeddruk die hoogte ingeskiet het. Sy is in die Life Flora Kliniek opgeneem om dit onder beheer te kry. Teen middernag het sy ongelooflike pyn ervaar. Ek was by die huis toe die hospitaal my bel. Met my aankoms was Louise reeds in die teater vir ‘n keisersnee. Haar baarmoeder het gebars,” het ‘n duidelike uitgeputte Shaun vertel.

Shaun Snyman sê hy en sy vrou Louise is erg depressief. Foto: Roelien Vorster.

Shaun het gesê klein Brodie het asemnood tydens geboorte opgedoen. “Hy en Louise was basies dood. Beide is dadelik suurstof gegee en dinge het begin beter lyk.”

Maar Brodie is ‘n baie siek babatjie. Shaun het verduidelik dat sy skedel skeef groei wat veroorsaak het dat hy epileptiese aanvalle kry. “Sy brein en skedel groei baie stadiger as ander babas s’n.”

Hoewel hulle ‘n mediese fonds het, is dit uitgeput en hulle sukkel reeds finansieel. “Ons familie bly almal in een huis om kostes te bespaar, maar my pa het kanker en my ma het nierversaking, wat geweldige spanning op ons plaas.”

Volgens die MRI-skadering het die suurstoftekort tydens Brodie se geboorte veroorsaak dat hy serebraal gestrem is. “Dit beteken dat hy nie die normale mylpale sal kan bereik nie. Hy sal nie kan loop of sit nie. Die epileptiese aanvalle kan moontlik met 10 persent verminder soos hy ouer word.”

Dis nie die eerste keer dat die Snyman-egpaar sulke spanning beleef nie. In 2014 het hul dogtertjie, wat op 26 weke gebore is, net 18 uur gelewe. “Sy het my vinger vasgehou toe sy haar laaste asempie uitgeblaas het. Na haar dood het ek en my vrou in ‘n diep depressie verval en ek het begin om myself te sny.”

Klein Brodie Snyman is tans in die Life Flora Kliniek se Neonatale Intensiewe Sorgeenheid. Foto: Shaun Snyman.

‘n Jaar na haar dood is hulle egter geseën met ‘n gesonde tweeling. “Brodie is ons wonderwerk-baba. Ons het nie nog kinders beplan nie en hy het reeds so diep in ons harte gekruip, maar ons kan nie meer sy mediese uitgawes bekostig nie. Ons wil graag geld insamel om die rekeninge wat nie deur die mediese fonds gedek word nie, te kan betaal.” Hulle is tans besig om ‘n rekening in Brodie se naam te open vir diegene wat skenkings wil maak.

Shaun voeg by dat hulle tot dusver net die beste diens van die verpleegpersoneel en dokters ontvang het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version