Editor's choiceNewsSchools

Havie-atleet leef sy droom uit

Heinrich kwalifiseer vir SA Kampioenskappe

 

Die 13-jarige Heinrich Jacobs is op sy gelukkigste wanneer hy oor die hoogspringlat of hekkies kan seil. As hy boonop medaljes in die proses kan inpalm is dit ‘n bonus.

Die Graad 7-leerder by Laerskool Dr Havinga is die enigste atleet van die skool wat vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer het. Wat die prestasie so besonders maak, is dat Heinrich by elke byeenkoms waaraan hy vanjaar deelgeneem het ‘n eerste plek in sy items behaal het. “Ek het aan die 80m- en 200m-hekkies asook hoogspring by die interhuis, interlaer, Roodepoort Kampioenskappe, D12 Kampioenskappe en Gauteng Kampioenskappe deelgeneem en het nou my doel bereik om aan die SA’s te kan deelneem,” het hy skamerig vertel.

Die byeenkoms vind van 23 tot 25 Maart in Potchefstroom plaas en hy het vertel dat alhoewel hy baie goed voorbereid is en glo dat hy sy beste sal kan gee, hy ook baie senuagtig is. “Ek is baie opgewonde om aan die byeenkoms te kan deelneem, maar dit is vir my baie stresvol. Ek het ‘n hele swerm vlinders in my maag!” het hy laggend gesê.

Sy ma Lindie het gesê dat hulle baie trots is op hom en alles wat hy bereik het. “Hy oefen baie meer as wat hy leer, maar as ons kyk na sy prestasies maak dit al die opofferings die moeite werd,” het sy met ‘n glimlag vertel.

Heinrich is nie net ‘n steratleet nie, maar speel ook vir Gauteng krieket, was verlede jaar in die 0.12 Leeus-rugbyspan en is hierdie jaar in die o.13-oefengroep. Hy neem aan kultuuraktiwiteite by die skool deel, presteer goed op akademiese vlak en is ook as onderhoofseun aangewys. “Hy oefen elke weeksdag twee uur lank – soms ook op Sondae – wat nogal moeilik kan raak. Daar is wel dae wanneer hy nie wil oefen nie, en dan los ons hom, maar ek weet wanneer hy net kanse vat!” het Lindie gesê.

Die Record het Heinrich gevra of hy enige spesifieke rituele voor of tydens ‘n byeenkoms het, en – voordat hy geantwoord het – het hy skaam geglimlag. “Ja, ek het so ‘n paar. Ek dra altyd twee verskillende kleure kouse en hou daarvan om druiwe en samoosas te eet die dag waarop ek deelneem. Voor die byeenkoms wil ek graag alleen wees en hou nie van mense om my nie. Dit help my om my fokus reg te kry,” was sy antwoord.

Sy boodskap aan elkeen wat ook droom om te presteer is eenvoudig. “Hou aan oefen en moet nooit moed opgee nie, al is daar dae wanneer dit nie so goed gaan nie. Volg jou droom.”

Heinrich het gesê dat hy nie so goed sou kon presteer sonder die hulp van sy afrigter nie. “Sonder tannie Cora se hulp en afrigting die afgelope vier jaar, sou my hekkiesloopbaan nie so suksesvol gewees het nie. Sy het my talent raakgesien en my gehelp om te kom tot waar ek vandag is. Baie dankie, tannie Cora.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button