Dié paar stap Horison se strate plat

'Ek vertrou my gidshond met my hele lewe.'

Vir meeste mense is die gawe om te kan sien een wat hulle as vanselfsprekend aanvaar. Hulle dink selde aan die struikelblokke wat blindes ervaar.

Die 30-jarige Brandt Steenkamp van Horison is blind gebore, maar hy laat hom nie deur dié gebrek onderkry nie. Hy is nie bang om uit te gaan en rond te loop nie, en kan ook baie dinge vir homself doen – met die hulp van sy beste vriend. “Ek het ongeveer ‘n week gelede ‘n nuwe gidshond, Sawyer, gekry en ons stap die wêreld vol. Ek is nie net blind nie, maar ook hardhorend en fisies gestrem, so ek vertrou my hond met my hele hart. Hy is my safety net,” het hy vertel.

Vir Brandt is dit ‘n baie groot voordeel dat Sawyer uitstekend met sy vrou, wat ook blind is, se gidshond oor die weg kom. “Dit is definitief goeie nuus, want as dié twee nie van mekaar gehou het nie, sou dit groot probleme veroorsaak het,” het hy laggend gesê.

Volgens Brandt is die gemiddelde aftreeouderdom vir ‘n gidshond 10 jaar. “Voordat jy ‘n nuwe hond kry, sal jou huidige hond eers mediese ondersoeke ondergaan om te bepaal of hy nog geskik is om te werk. Party honde werk langer, ander korter. Dit word deur ‘n verskeidenheid faktore bepaal,” het hy gesê.

Maar, die groot vraag wat mense vra wanneer hulle ‘n blinde persoon en sy of haar gidshond êrens sien stap, is hoe weet die hond waarheen die eienaar op pad is. Brandt het met ‘n glimlag geantwoord, “Dit is ‘n groot wanopvatting by mense dat die hond weet waarheen om te gaan. Jou hond mag dalk die pad leer ken as jy gereeld na ‘n sekere plek toe gaan, maar jy self moet weet hoe om by ‘n plek uit te kom. Ek gebruik die GPS-funksie op my foon – wat ook voorsiening vir staproetes maak – om ‘n plek te kry. Maar, dis altyd beter om saam met iemand te verdwaal as alleen.”

Om ‘n gidshond te hê is vir Brandt ‘n groot voorreg, want dit gee hom die geleentheid om meer beweeglik te wees, en ook meer na plekke toe te kan gaan. “As ek nie ‘n hond gehad het, sou ek heel waarskynlik minder dikwels uitgegaan het,” het hy gesê.

Brandt het vertel dat die grootste frustrasie wat hy ervaar wanneer hy en Sawyer in die straat stap, is mense wat die gidshond roep en wil streel. “Dit is baie frustrerend omdat die hond se aandag van sy werk afgetrek word, wat my lewe kan kos. As jy my hond wil streel, vra my of dit reg is. Ek sal dan stop, hom laat sit en jy kan hom dan na hartelus streel,” het hy gesê.

Mense wat ‘n blinde persoon by ‘n verkeerslig wil help, moet ook eers vra of hulle kan help. “Moet nie net my skouer of arm gryp en daar loop ons nie. Vra of jy my kan help. As ek sê dis reg, bied jou elmboog vir my aan en so kan ons dan saam oor die pad stap,” het Brandt afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version