Editor's choiceLocal newsNews

Kokkerotplaag by aftreeoord

"Die saak is nog nie opgelos nie."

Swartsakke vol dooie kokkerotte is na bewering uit ‘n wooneenheid in die Klein Helderkruin Aftreeoord verwyder maar, volgens sommige inwoners, is die probleem nog lank nie opgelos nie.

Volgens Alwyn Cronjé van Krugersdorp het sy ma ongeveer twee jaar gelede daar ingetrek. “Ons het begin om die woonstel uit te verf en skoon te maak, maar ons kon nie verstaan hoekom al wat ‘n gaatjie is, toegeplak is nie. Twee maande later het ons geweet dis om die kokkerotte uit te hou.”

Hy het gesê die saak is verskeie kere aan bestuur gerapporteer, maar hulle was onsuksesvol. “Mettertyd het die kokkerotplaag buite beheer geëskaleer. Die munisipaliteit het die eenheid berook en daar is swartsakke vol kokkerotte uitgedra. Drie weke later, tydens ‘n onderonsie tussen die inwoner en bestuur het ek gesien hoe die plek lyk. Die perseel is nog nooit skoongemaak vandat die persoon daar ingetrek het nie. Die kokkerotte wemel tussen die klere, kaste en koskaste.”

Cronjé het gesê hy het ook gesien dat ‘n kas, wat besmet was, verwyder is. “Daar is blykbaar agterna nog meubels verwyder, maar die plaag is nog steeds ‘n probleem.”

Hoewel die inwoners verantwoordelik is vir die skoonmaak van hul eie eenhede, voel Cronjé dat daar drasties opgetree moet word. “Dis ‘n gesondheidsrisiko vir die ander inwoners, wat al hul geld aan Doom bestee. Daar moet ondersoek ingestel word na die welstand van die man. As hy nie bevoeg is om vir homself te sorg nie, moet hy trek. Bestuur moet daarop aandring dat sy woonstel een keer ‘n week skoongemaak word.”

Volgens Dennis Venter, ‘n maatskaplike werker by Klein Helderkruin, is hulle bewus van die probleem en het reeds op 11 Januarie ‘n brief aan die stadsraad geskryf. Volgens hom is die hele vloer ongeveer twee weke gelede berook. “‘n Gesondheidsinspekteur het ook met die inwoner gepraat. Ons monitor die situasie.”

Die Bestuurder: Omgewingsgesondheid by die Stad van Johannesburg, Rika van Heerden is ook bewus van die probleem. Volgens Van Heerden is daar inspeksie gehou en die probleem is aan die inwoner verduidelik.

“Die saak is nog nie opgelos nie.”

Volgens Cronjé was hy Vrydag (3 Maart) weer by die aftreeoord. “Die man sluit homself in die woonstel toe. Niemand kan hom bereik nie. Maar, die kokkerotplaag is nog net so erg soos voorheen.”

Lees meer hier

Big problems at Klein Helderkruin?

Klein Helderkruin, big problems

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button