AGS Florida Park verwelkom nuwe pastoorspaar

Sarel en Ina Smit sluit by AGS Florida Park Familiegemeente aan

Die AGS Florida Park Familiegemeente beplan ‘n groot geleentheid op 12 Maart om hul nuwe pastoorspaar te verwelkom.

Volgens Kaitlyn Fuller, die kommunikasiebeampte by die kerk, gaan dit ‘n groot dag vir die gemeente wees. “Doktor Isak Burger gaan die oggenddiens lei waartydens doktors Sarel en Ina Smit as nuwe pastoorspaar by die gemeente bevestig en verwelkom sal word. Onbeskaamd se Stass en Carindé gaan ook by dié diens optree. Die verrigtinge begin om 9vm en na afloop van die diens sal daar heerlike eetgoed in die saal beskikbaar wees,” het sy gesê.

Sarel en Ina het reeds verlede Oktober in waarnemende rolle by die gemeente aangesluit. Sarel is intussen deur die bestuursraad van die kerk as presiderende pastoor van die gemeente aangestel, en Ina staan hom in sy nuwe amp by. Sy is ook by die gemeente se musiekdepartement betrokke.

Die egpaar is al die afgelope 31 jaar by die bediening betrokke en vir Sarel is een van sy hoogtepunte definitief wanneer iemand vir hom sê dat ‘n preek van lank terug ‘n groot impak op sy of haar lewe gemaak het.

Die egpaar se visie vir die gemeente is om mense vir hul dienswerk toe te rus. “Ons wil graag sien dat hierdie gemeente optimaal sal ontwikkel en ‘n oase en lig vir die omgewing sal wees,” het Ina gesê.

Hulle is baie opgewonde om deel van die Florida Park Familiegemeente te wees, en is gereed om al die nuwe uitdagings en verantwoordelikhede te aanvaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version