NewsSchools

Florries verwelkom nuwe hoof met Florrie Magic

Hy voel reeds tuis by Hoërskool Florida, sê nuwe skoolhoof.

“Ek wil verder voortbou op die wenresep wat reeds in plek is by Hoërskool Florida. Ek wil nie aan iets wat werk verander nie.”

Dit is die woorde van Julius Katzke wat onlangs as dié skool se nuwe hoof aangewys is. “Ek het al so baie gehoor van die Florrie Magic by die skool en kan met eerlikheid sê dat ek dit reeds beleef het. Die onderwysers en leerders is almal baie vriendelik en ek voel alreeds tuis hier,” het hy gesê.

Julius het vertel dat hy in Randfontein gebore en getoë is en vir amper 17 jaar lank die hoof van Hoërskool Jan Viljoen was. “Ek het by Jannas begin skoolhou. Intussen was ek adjunkhoof by Jan de Klerk en Noordheuwel, en is toe as hoof van Jannas aangestel,” het hy gesê.

Die besluit om die pos by Florida te aanvaar, is nie ligtelik geneem nie. “Ek was baie gelukkig by Jannas en ek en my vrou het lank en hard gebid oor die nuwe pos. Dit is ongelooflik hoe die pad vir ons gewys is, en ek glo met my hele hart dat die Here my na Florries gestuur het om ‘n verskil te maak,” het hy vertel.

Die skool het ‘n spesiale seremonie gereël om Julius op sy eerste dag te verwelkom. Hy het gesê dat hierdie gebaar vir hom ongelooflik spesiaal was. “Ek is so dankbaar vir al die moeite wat gedoen is om my welkom te laat voel. Die vlagseremonie, rooi tapyt, elke stewige handdruk en die Verteenwoordigende Leerderraad- (VLR-) seuns se gebed het my nederig laat voel. Dit was vir my ‘n ongelooflike groot eer om my Florrie-baadjie in ontvangs te neem,” het Julius vertel.

Die nuwe uitdagings wat op hom wag, skrik hom glad nie af nie. Hy het gesê dat hy baie opgewonde is om deel van Hoërskool Florida se wenspan te wees. Hy glo as elkeen wat by die skool betrokke is – ouers, leerders en onderwysers – hande vat, hard werk en die skool se belange eerste stel, niks en niemand hulle sal kan stuit nie.

Hy glo ook dat almal altyd moet probeer om alles wat hulle doen, na die beste van hul vermoë te doen en het met die gedagte afgesluit, “Middelmatigheid in vandag se lewe is net nie meer goed genoeg nie. Wees altyd die beste wat jy kan wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button