Die Voortrekkers trap nuwe spore

Belangstellendes word genooi om deel te word van die Voortrekker-familie.

Wanneer jy die woord Voortrekkers hoor, dink jy dadelik aan die saamtrekke waar jy as deel van ‘n groep speletjies gespeel, nuwe vaardighede geleer en saans saam liedjies om die kampvuur gesing het.

Die Voortrekkers is ‘n kultuurorganisasie wat al 85 jaar bestaan en bied jongmense die geleentheid om waardevolle vaardighede en morele waardes aan te leer.

Volgens dr Danie Langner, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuur (FAK) en leier van die Voortrekkers, is die organisasie na byna agt dekades steeds relevant omdat dit ‘n omgewing vir jongmense skep waar hulle buitelugavonture kan beleef en vergete tradisies kan geniet.

Van links: Nelius Kruger, Genna Labuschagne, Lukas Combrink en Ethan Labuschagne het die waatlemoenfees terdeë geniet. Fotos: Verskaf

“Die Voortrekkers is ‘n plek waar kinders – saam met hulle pa, ma, oupa en ouma – die natuur met ‘n avontuur kan geniet. Dis hier waar hulle die geleentheid kry om knope te vleg, vuil te word, staproetes te verken, in branders te roei, deur riviere te swem, in skuilings te slaap wat hulle self gebou het, rigting met die hulp van die sterre te bepaal of sommer net laataand om die vuur te kuier,” het hy gesê.

Die organisasie se boublokke bestaan onder andere uit geloof, trots, familie, diens en leierskapontwikkeling. Ander aspekte wat ook van groot belang is, is kultuur, avontuur en natuur (KAN) en vaardighede, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing (VAT).

Die Voortrekkers is ‘n geakkrediteerde opleidingsinstansie wat verskeie Seta-kursusse, toerustingkursusse en persoonlike verrykingsgeleenthede vir naskoolse jongmense asook volwasse lede aanbied.

Spanbouaktiwiteite bou spangees onder die Voortrekkerlede.

Laerskool Helderkruin is baie opgewonde om die gasheer te wees vir die Helderkruin Voortrekkers, wat deel van die groter Weltevrede Voortrekker-groep is.

Hul aktiwiteite het onlangs met ‘n heerlike speletjies- en waatlemoenfees afgeskop en die leerders het hulle gate uit geniet.

Die Voortrekkers is nie nét vir Helderkruin-leerders nie, maar alle belangstellendes word uitgenooi om deel van die pret te word. “Ons is ‘n klomp maats wat saam kamp, konsert hou, vuur en stokbrood maak, spoorsny, op uitstappies gaan en sommer net klim en klouter. In die proses leer ons ook baie dinge van ons land en om vir onsself te sorg,” het Hein Coetzee gesê. Die lede sal ook die geleentheid kry om spesialisaktiwiteite, wat onder andere noodhulp insluit, te doen. Alle aktiwiteite is ouderdom-spesifiek.

Die groepie kom elke Woensdag tussen 5nm en 6nm bymekaar en nooi alle belangstellendes om by hulle aan te sluit sodat hulle kan besluit of dié aktiwiteite iets is wat hul graag sal wil doen.

Vir meer inligting kontak vir Anna Herbst by 082 578 5632 of Hein Coetzee by 082 903 0958.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version