Local newsNews

Agter elke man

"Hoewel ons nie baie het nie, het die kinders nog nie honger gaan slaap nie."

Mense sien ‘n bedelaar by die verkeerslig by die kruising van Beyers Naudérylaan en John Vorsterweg, maar min mense weet wat dié man al beleef het.

Frederick van Staden, 42, wat die afgelope agt jaar gereeld daar staan, se lewensverhaal is verbysterend. Op negejarige ouderdom is Frederick deur ‘n motor raakgery. Sy arm het aan die motor se buffer vasgehaak en hy is teen ‘n spoed van 140km/h omtrent 14m ver gesleep. Sy kop het herhaaldelik teen die padoppervlak gestamp en hy was 11 dae lank in ‘n koma. Toe hy wakker word het hy twee beroerte-aanvalle gehad. Dit het veroorsaak dat hy essensiële tremors, ‘n vorm van Parkinson se siekte kry. Hy het breinskade opgedoen en volgens Frederick het die medikasie nie gehelp nie.

Hy het gesê ‘n derdeparty-eis het uitbetaal maar aangesien hy minderjarig was, het sy pa die geld gebruik om ‘n huis te koop. Sy pa is intussen oorlede en die boedel is nog nie afgehandel nie.

In 2009 was hy weer in ‘n motorongeluk. Hy is van die pad afgedruk en sy motor het gerol. Na drie dae in die hospitaal het die tremors erger geword. “Ek en my vier kinders het in ‘n buitekamer op die erf gebly. My suster het intussen getrek en ons het in die huis gaan woon. Daarby saam het ons ‘n water- en ligterekening van R240 000 geërf wat nog terugbetaal moet word,” het Frederick verduidelik.

Sy vrou Belinda, 54, ‘n interne ouditeur, was 25 jaar gelede in ‘n motorongeluk waarna sy 18 maande aan ‘n rolstoel gekluister was. Sy is medies ongeskik verklaar nadat sy met diabetes, osteoporose, en galblaas- en skildklierprobleme gediagnoseer is.

Volgens Frederick kan hy, op ‘n goeie dag by die verkeerslig, omtrent R300 verdien, maar as dit sleg gaan, kry hy net ongeveer R100. “Ek kry R2 000 kinderonderhoudstoelaag vir twee van my kinders en Belinda kry R1 300 ongeskiktheidstoelaag. Ons het dan baie min geld oor om van te lewe,” het Frederick gesê.

Sy plan is om ‘n kibboets te begin vir mense wat in dieselfde bootjie as hy is. “Dit is die enigste manier om te verseker dat ek ‘n dak oor my kop kan hê. My susters het te kenne gegee dat sodra die boedel afgehandel is, hulle die huis gaan verkoop en dan sit ek, my vrou en sewe kinders (drie stiefkinders) op straat. Almal het een of ander talent, hetsy dit skryn- en/ of metaalwerk is, en die goed kan verkoop word vir ‘n inkomste.

“Ek probeer ook ‘n ekstra inkomste verdien deur verskeie optredes te hou. Ons is baie afhanklik van die gemeenskap vir kos- en kleredonasies en met net die Here genade, bly ons nog staande.”

Hy het die versekering gegee dat hy nie mense se goedheid wil uitbuit of misbruik nie, maar sy grootste bekommernis is blyplek vir die toekoms. “Ek is bereid om in ‘n houthuisie op die erf te bly, solank ons net ‘n dak oor ons koppe kan hê. As ek genoeg ondersteuning van die gemeenskap kry, kan ek iewers ‘n kibboets stig.”

Belinda het gesê dat hulle tans skoolskoene en klere vir die kinders nodig het. “Hoewel ons nie baie het nie, het die kinders nog nie honger gaan slaap nie.”

Enige iemand wat die Van Stadens kan help, kan vir Frederick by 074 247 2778 of Belinda by 078 875 0104 skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button