Zanerique – ses maande later

Vandag is Zanerique simptoomvry en kan sy weer lag en speel

Dokters het gesê sy het net tussen ses en agt maande van haar jong lewe oor nadat sy met ‘n breingewas gediagnoseer is.

Ses maande later is die sewejarige Zanerique Toerien simptoomvry en terug by die skool. Volgens haar ma, Tersia, het die dokters op die laaste MRI-skandering gesien dat die gewas op haar brein gekrimp het. “Sy het op 11 Augustus haar laaste bestralingsessie gehad, en moes ses weke wag voordat hulle vir ons sou kon sê of daar ‘n verskil is. Op 17 September, ongeveer vyf weke later, het sy vir die skandering gegaan. Groot was ons dankbaarheid toe ons hoor die gewas het kleiner geword,” het ‘n baie verligte Tersia gesê.

Die dokters is ook baie tevrede met Zanerique se vordering, en het haar medikasie na haar laaste ondersoek verminder. “Die kortisoontablette wat sy moet gebruik is nie baie goed vir haar nie, en ons is so dankbaar dat sy nou minder daarvan nodig het,” het Tersia vertel.

Zanerique is hierdie jaar weer in Graad 1 by Laerskool Horison. Volgens haar ma is sy vreeslik opgewonde om terug by die skool te wees en die onderwyser sê dat sy uitstekend vorder. “Haar sussie Zhaney is net so bly dat sy weer saam met haar kan skoolgaan, en ek hoor hulle is onafskeidbaar. Alhoewel hulle soms baklei, soos alle sussies maar doen, is Zhaney definitief baie meer beskermend teenoor Zanerique,” het Tersia gesê.

Vir die Toerien-gesin is dit wonderlik om weer vir Zanerique te sien lag, speel en kommunikeer soos ‘n normale sewejarige, en hulle glo dat die verbetering deur geloof en gebed teweeg gebring is. “Dit is net deur die Here se genade, en ons is dankbaar vir elke ekstra dag wat ons saam met haar het. Ons vat steeds elke dag soos dit kom, en beplan niks vooruit nie. Die gewas is nog daar en die simptome kan enige tyd weer terugkom,” het sy gesê.

Tersia het vertel dat hulle as gesin deesdae baie meer kwaliteittyd saam deurbring. “Die lewe is so gejaagd en ons maak nie altyd tyd vir mekaar nie. Jy besef baie gou hoe vinnig dinge kan verander en dat iemand wat jy liefhet, van jou af weggeneem kan word. Ons spandeer nou baie meer tyd saam en bou legkaarte, verf en speel klei. Ons grimeer mekaar ook en lag lekker vir dit wat daar uitkom,” het ‘n laggende Tersia vertel.

Alhoewel Zanerique nie baie van die fotoneemidee gehou het nie, het haar ma vertel dat sy baie positief is en glo dat sy nou gesond is. “Sy is baie meer ambisieus en sal ook makliker nuwe dinge aanpak. Sy is ‘n vegter,” het sy gesê.

“Ons bedank almal in die gemeenskap en ook Laerskool Horison vir al hul hulp en bystand. Ons waardeer elkeen van julle,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version