Pieter lê sy verfkwas neer

Kunstenaar sterf onverwags op 80-jarige ouderdom

Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Pieter Millard het op 80-jarige ouderdom sy verfkwas en palet vir die laaste keer gebruik.

Hy het verlede jaar’n beroerte gehad waarna die regterkant van sy liggaam verlam was, maar volgens sy dogter, Ina Eksteen, het hy nie toegelaat dat dit hom onderkry nie. “Hy was ‘n kunstenaar van formaat en het homself geleer om met sy linkerhand te skilder,” het sy gesê.

Pieter het op 23 Januarie geval en bloeding op die brein opgedoen. Kort daarna het hy in ‘n koma verval en is die aand van 24 Januarie oorlede.

Ina het vertel dat haar pa op vele gebiede ‘n merkwaardige man was. Hy het vir meer as 30 jaar kunsklasse aangebied en verskeie van sy leerlinge het later bekende kunstenaars geword. Sy eie kunswerke pryk in ‘n hele aantal privaat wonings en galerye – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.

Pieter se kunswerke is altyd kleurvol en hy het ‘n kenmerkende los kwasbeweging gebruik wanneer hy geskilder het. Hy het sy liefde vir die see en diepseehengel in sy hawe-, boot- en seetonele uitgeleef en van sy kunswerke, soos die vissershuisies en wingerde, is deur die Kaapse landskap geïnspireer.

Hy word oorleef deur sy vrou, Chrissie, drie kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders. Sy afsterwe laat ook ‘n groot leemte in die lewens van sy kunsstudente, -handelaars en -galerypersoneel, en hulle sal hom oneindig mis.

“Ons salueer vandag ‘n man van statuur, wat met sy verfkwas van liefde en kleur oor elkeen van ons se lewenspalet geverf het. Sy geestelike nalatenskap as predikant vir 25 jaar en sy kunsnalatenskap van meer as 30 jaar sal diep bewaar word,” het Ina afgesluit.

‘n Herinneringsdiens word op 27 Januarie om 12nm by die AGS Floridapark-gemeente, op die hoek van Hinsbeecklaan en Mailstraat, Floridapark, Roodepoort gehou.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version