Bradley katrol plek in SA-span in

Harde werk en passie help Bradley om sy hengeldroom te bewaarheid

‘n Leerder van Hoërskool Bastion het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) se kompetisie deelgeneem en uitstekend gevaar.

Bradley van Vuuren is 17 jaar oud en hengel is sy passie. “Dit is baie harde werk en verg baie opoffering. Ek moet naweek na naweek my hengeltegnieke oefen, maar om in die natuur te wees en die buitelug te geniet maak dit die moeite werd,” het hy gesê.

Hy het twee jaar gelede aan proewe deelgeneem en is tot die Sentraal Gauteng B-span verkies, maar het ongelukkig nie gekwalifiseer vir die SAVOF-span nie. “Dit het my sterker gemaak en ek het besluit om harder te werk sodat ek die volgende jaar vir die SAVOF-span gekies kon word,” het hy vertel.

Bradley van Vuuren tydens die kompetisie.

Hy het die daad by die woord gevoeg en met baie harde werk en vele struikelblokke om te oorkom is hy laasjaar weer vir Sentraal-Gauteng se B-span gekies. Sy ouers het alles in hul vermoë gedoen om te verseker dat hy die kompetisie kon bywoon, en met die hulp van borge en donasies was hy reg om te gaan.

“Ek het, terwyl ek my viskas en gereedskap reggekry het vir die kompetisie, baie positief gevoel en kon nie wag om te gaan deelneem nie,” het hy met ‘n glimlag vertel. Die kompetisie is by Bloemhofdam aangebied, en hy moes hard werk om vir ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span te kwalifiseer. “Ek het deur die sand, stof, wind, reën en hitte gehengel dat dit klap. Al waaraan ek kon dink is dat ek ‘n kans het om die span te haal en dit nie moet laat verbygaan nie,” het hy vertel.

Sy harde werk en deursettingsvermoë was nie verniet nie. “Ek was so bly en dankbaar toe ek die oproep kry dat ek verkies is tot die SAVOF Mini SA B-span,” het hy met ‘n groot glimlag vertel.

Bradley is baie opgewonde oor die volgende kompetisie wat in Oktober weer by Bloemhofdam gehou gaan word. “Ek sien ongelooflik baie uit na dié kompetisie en het reeds begin oefen en navorsing ten opsigte van my tegniek en produkte doen. Ek weet daar lê baie harde werk voor, maar ek voel positief,” het hy selfversekerd gesê.

Bradley wil graag vir almal wat ‘n bydrae gelewer of ‘n skenking gedoen het om te help om sy droom te bewaarheid, dankie sê. “Maar die een wat ek die meeste wil bedank, is my pa, want hy ondersteun my altyd ten volle. Hengel is nie ‘n goedkoop sport nie, en ek weet my ouers kan nie altyd die finansiële verpligtinge bybring nie, maar hulle maak altyd ‘n plan. My pa sê dikwels vir my dat hy altyd sy beste sal gee om my te probeer help, want dit is ‘n groot eer om vir die SA-span te hengel,” het hy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version