NewsSchoolsSport

Wes-Rand stoeiklub hard aan die oefen

Deelname aan die sportsoort het geen ouderdomsbeperking nie

Voete wat klap op die houtvloere, asems wat jaag, en ‘n fluitjie wat elke nou en dan blaas is van die geluide wat in die Witpoortjie Ontspanningsentrum gehoor is.

Stoeiers van alle ouderdomme was hard besig om op te warm voordat hulle oefensessie vir die aand begin het. Hulle het gedraf, en opstote en opsitte, duikrolle en eendloop gedoen dat die sweet hulle aftap.

Stean Meyer is net twee jaar oud en alreeds dol op stoei.
Stean Meyer is net twee jaar oud en alreeds dol op stoei.

Een van die hoofafrigters, Juan Nel het effens uitasem, maar baie trots vertel dat hulle al ongeveer 17 jaar by die ontspanningsentrum oefen en dat die klub al vele prestasies behaal het. “Twee jaar gelede was ons die klubkampioene en ons is die enigste klub wat in een jaar sewe Springbok-stoeiers gehad het wat aan die Afrika-kampioenskappe deelgeneem het. Dit is steeds ‘n rekord.”

Morné Maree, die voorsitter van die stoeiklub het gesê dat hy stoei vir enigiemand sal aanbeveel. “Dit is ‘n goeie krag- en selfverdedigingsport. Dit wat ons hier beoefen, is amateurstoei en is glad nie dieselfde as rofstoei nie,” het hy gesê.

Morné en Juan stem altwee saam dat die sport baie goed is om dissipline, selfvertroue asook krag te bevorder.

“Alhoewel stoei voordele inhou vir elkeen wat dit beoefen, is dit veral goed vir die seuns wat rugby speel. Wanneer ‘n rugbyspeler ook stoei, kan ek onmiddellik die verskil op die rugbyveld ook sien,” het Juan gesê.

https://www.youtube.com/watch?v=LToxrQGfw3o&feature=youtu.be

Die klub het tans ongeveer 45 geregistreerde lede van alle ouderdomme – van twee tot 60 jaar oud. Hulle oefen Maandae en Woensdae van 6nm tot 8nm by die Witpoortjie Ontspanningsentrum. Woensdae het hulle ook ‘n meestersklas. “Willem Putter is al amper 60 jaar oud en oefen elke Woensdag hier by ons. Hy is al vir die afgelope 10 jaar ‘n wêreldkampioen,” het Juan gesê.

Volgens Morné word daar gewoonlik een maal per maand ‘n kompetisie aangebied waaraan elkeen by die klub kan deelneem. “Ons het ope kompetisies, maar ook kompetisies vir beginners en ons jonger stoeiers,” het hy gesê.

Drie broers oefen saam. Hulle is van links: Stean, 2, Franco, 4, en Rudich Meyer, 6. Foto's: Adéle Bloem
Drie broers oefen saam. Hulle is van links: Stean, 2, Franco, 4, en Rudich Meyer, 6. Foto’s: Adéle Bloem

“Enige persoon is welkom om saam met ons te kom oefen. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Sou jy belangstel om meer te wete te kom kontak gerus vir Juan by 083 411 3758 of vir my by 083 626 0299,” het Morné afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button