Naomi het ‘n passie vir haar gemeenskap

Siekte is nie ‘n struikelbok om haar passie uit te leef nie

Naomi Scheepers is ‘n 53-jarige inwoner van Horison wat nie huiwer om ‘n verskil in haar gemeenskap te maak nie.

Naomi was ‘n onderwyser wat haar werk ongelooflik baie geniet het maar, weens omstandighede, moes sy agt jaar gelede aftree.

“Ek het veelvuldige sklerose en kan glad nie meer loop nie. Ek is afhanklik van ‘n rolstoel om oor die weg te kom,” het sy gesê.

Die feit dat sy by die huis moes bly, was vir haar ‘n groot irritasie want, volgens haar, kon sy nie net so sit en niks doen nie. Sy het by die Horison Buurtwag aangesluit en al is sy van haar rolstoel afhanklik, is sy ‘n baie aktiewe en betrokke lid.

“Ek patrolleer gewoonlik Maandae en Woensdae saam met medepatrolleerders, en soms patrolleer ek sommer met my elektriese rolstoel in ons straat ook,“ het sy laggend vertel. Haar buurtwagbynaam is Zippy – vernoem na haar elektriese rolstoel – maar sy en van haar medepatrolleerders word ook soms die Dog squad genoem. “Ek, Blommie (Meridy) en Elise is baie lief vir honde en ons probeer altyd wanneer ons uit is op patrollies om ons oë oop te hou vir enige vermiste of verdwaalde honde,” het sy gesê.

Sy het vertel dat een van die buurtwaglede ‘n boodskap oor die handradio gestuur het van ‘n worshondjie wat in die straat rondgeloop het en nie gevang kon word nie. “Dit was oor die naweek. Ek en Blommie het soos altyd die Maandag ons patrollies gaan ry en het by nuwe intrekkers gestop. Blommie het uitgeklim om met die mense te gesels en van die buurtwag te vertel. Sy het vir die man gevra om saam met haar tot aan die onderpunt van die straat te stap,” het sy vertel.

Naomi het gesê dat Blommie redelik lank geneem het om na die motor terug te keer. “My verbasing was baie groot toe sy met ‘n worshondjie in haar arms teruggekom het,” het sy laggend gesê.

Hulle het met Colleen, ‘n ander lid van die buurtwag gekommunikeer om die hondjie op die reddingsgroepe te sirkuleer. “Colleen het vir Helga geskakel wat ook baie betrokke is by die vind en red van vermiste diere. Sy het gevra dat ons die hondjie na die veearts in Ruimsig neem, sodat hulle die eienaar kon vind,” het sy vertel. Hulle blydskap was groot toe hulle hoor dat die hondjie aan sy eienaar terugbesorg is. “Die eienaar het onlangs heelwat traumatiese gebeurtenisse beleef, onder andere sy hondjie wat weggeraak het. Dis wonderlik dat ons kon help om dit vir hom ‘n bietjie beter te maak,” het Naomi gesê.

Sy glo die buurtwag het ‘n groot aandeel daarin gehad om die verlore worshondjie te vind en met sy eienaar te herenig, want sonder die kommunikasie tussen die lede kon die storie baie anders geëindig het.

Vir haar is die buurtwag nie net iets wat sy doen om haar tyd te verwyl nie. “Dit is my lewe en ek is baie trots op wat ek doen. Ek kan dalk nie loop waar ek wil wees nie, maar ek glo dat ek op my manier wel ‘n verskil kan maak. Wat anders is gemeenskap as omgee vir mekaar se veiligheid en om na mekaar se belange om te sien? As ek ‘n verskil kan maak, of dit nou is om iemand se verlore hondjie op te spoor of dalk hulle te waarsku oor ‘n gevaar, dan het ek my deel gedoen,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version