NewsSchools

Wiskunde-blitsbrein verower brons

Rikus vaar uitstekend in internasionale wiskundekompetisie

Somme skrik nie die 11-jarige Rikus Jansen van Laerskool Helderkruin af nie, en hy glo dat syfers van sy beste maats is.

Hy het onlangs tydens die Pan Pacific Abacus and Mental Arithmetic Association (PAMA) Mental Maths-kompetisie in Seoul, Suid-Korea met van die wêreld se beste wiskundestudente meegeding en met ‘n bronsmedalje teruggekeer.

Dit was die tweede keer dat hy oorsee was – die eerste keer was in 2015 toe hy die oefenkamp in Japan bygewoon het.

Volgens hom het hy die kompetisie baie geniet en was dit vir hom lekker om in ‘n ander land te kon kompeteer. “Ek moes mooi luister tydens die kompetisie, want hul Engels was baie sleg,” het hy skamerig gesê.

Hy het vertel dat hy nog altyd dol was op wiskunde en geniet dit baie om met syfers te werk. Hy is al van sesjarige ouderdom af ‘n student by A+ Students waar hy die Japanese wiskundemetode Soroban beoefen. “Die metodes wat ek leer help my definitief met my skoolwerk. Ek kan gewoonlik vinniger as my klasmaats by die wiskunde-antwoorde uitkom,” het hy met ‘n groot glimlag gesê.

Sy doelwit vir hierdie jaar is om weer vir die internasionale kompetisie – wat in Suid-Afrika sal plaasvind – te kwalifiseer.

“Dit sal vir my ‘n baie groot eer wees om in my eie land te kan deelneem,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button