Havies se haasbekkies reg om te leer

Laerskool Dr Havinga verwelkom meer as 200 nuwe graadeentjies

Die eerste skooldag van 2017 het aangebreek en Laerskool Dr Havinga se gange was gevul met opgewonde kinderstemme en benoude gesiggies.

Volgens Hettie Smit, die Graadhoof, het hulle ongeveer 215 nuwe graadeentjies vandag (11 Januarie) verwelkom. “Ons het agt Graad 1-klasse vir hierdie jaar. Die meerderheid van die nuwelinge is baie opgewonde om hier te wees en het met skitterblink ogies die klasse binnegegaan. Hulle is vreeslik gretig om al die nuwe dinge te leer,” het sy gesê.

https://www.youtube.com/watch?v=TBPbb0vDJv0&feature=em-share_video_user

Met die Record se besoek aan die skool was die Graad 1’s reeds in hul klaskamers besig, en alhoewel van die nuwe Havies ‘n bietjie onseker gelyk het oor presies wat om van die grootskool te verwag, was die algemene gevoel een van opgewondenheid.

Agter: Marco Do Espirit Santo en Hettie Smit (Graadhoof). Voor van links: Twané van Aswegen en Lesedi Mafokane.

Divan Lubbe, een van Ina Kruger se leerders was baie gretig om met die Record te gesels. “Ek is bly om in Graad 1 te wees en dink Dr Havinga is ‘n baie goeie skool,” het hy gesê. Op die vraag of hy na pouse weer sy klas sal kry, het hy baie selfversekerd geantwoord, “Ja, ek sal!”

Deané Kraft en Animike Potgieter.

“Hy kan sy naam skryf en het al sy maats in die klas getel en vir my gesê daar is 24 kinders,” het ‘n trotse Ina vertel. Divan was ook glad nie bang – of skaam – om sy naam op die bord te skryf nie.

Leon Visser, Laerskool Dr Havinga se skoolhoof het ook tyd by elke Graad 1-klas spandeer en met die nuwelinge gesels.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version