Kersliggies bring vreugde in Witpoortjie

Kom staan bietjie stil en geniet die pragtige Kersliggies

Inwoners van Witpoortjie en omliggende areas word uitgenooi om weer Kersfees te herleef soos in die ou dae.

Christopher en Magda Erasmus se huis in Strydomstraat, Witpoortjie word elke Kersseisoen n liggiefees. Hulle het die tradisie met die geboorte van hul dogter, Jenna-veé, 11 jaar terug begin. “Met haar geboorte het ons ons huis en tuin die eerste keer met die liggies opgemaak en van daar af het ons elke jaar ekstra liggies gekoop,” het Christopher vertel.

Die Erasmus-huis in Strydomstraat.

“Ek onthou hoe lekker dit destyds vir my was om gedurende Kerstyd na die liggies in Johannesburg se middestad en Joubertpark te gaan kyk.

Dit het my opgewonde laat voel oor Kersfees en dit is wat ek graag wil terugbring,” het Christopher gesê.

Die kermiswiel draai in die rondte.

Volgens Christopher verteenwoordig die liggies vir hom die gees van Kersfees en is dit vir hom vreeslik lekker as ouers hul kinders bring om daarna te kom kyk. “Ons doel met die liggies is dat die kinders kan sien waaroor Kersfees regtig gaan. Dit gaan nie nét oor geskenke nie,” het hy gesê.

Hulle skakel die liggies gewoonlik op 1 Desember aan, en daarna elke aand tot aan die einde van Desember. Christopher het erken dat dit nogal harde werk is om al die liggies – hy is nie seker presies hoeveel daar is nie, maar sê dis baie! – gereed te kry om die huis te versier. “Ek begin gewoonlik so twee dae voor 1 Desember en maak seker dat al die liggies werk. As ek iets moet vervang, doen ek dit,” het hy gesê.

Magda, Jenna-veé en Christopher Erasmus. Fotos: Adéle Bloem

Sy vrou Magda het vertel dat hulle nie die liggies aanskakel wanneer dit reën of die weer swaar is nie. “As dit lyk of daar ‘n wolkie in die lug is of ‘n druppeltjie water val, skarrel ons almal baie vinnig om die liggies uitgeprop te kry!” het sy laggend vertel.

Magda glo dat tradisies besig is om uit te sterf en dat mense nie meer besef waaroor Kersfees gaan nie. “Kersfees gaan deesdae vir baie mense net oor geskenke. Ons voel dit is baie belangrik om tradisies terug te bring. Ons wil hê mense moet ‘n bietjie stilstaan en dink waaroor Kersfees gaan,” het sy gesê.

Die treintjie op pad Noordpool toe.

Die groot vraag op almal se lippe is, met al die liggies wat oor die hele Desember flikker, skitter en helder skyn, hoeveel is hul elektrisiteitsrekening? Voordat hulle antwoord, het Christopher en Magda na mekaar gekyk en begin lag. “Dit is ongeveer R1 500 meer as gewoonlik, maar dit gaan nie vir my oor die kostes nie. Ons doen dit vir die gemeenskap en dis baie lekker as mense van oraloor af kom om na ons liggies te kom kyk. Dit maak alles vir my die moeite werd as die mense kom kyk en tevrede wegry,” het Christo gesê.

Sneeuman by die voordeur.

Alhoewel hulle nie meer hul huis binne ook met liggies versier nie, is mense wat na die liggies kom kyk, welkom om in hul tuin te stap. “Mense is maar onseker of hulle mag inkom om te kyk, en wanneer ons iemand voor die huis of by die hek sien staan, maak ons oop sodat hulle kan inkom,” het Christo vertel.

Christo en Magda nooi die gemeenskap om na hul Kersliggies by Strydomstraat 72 in Witpoortjie te kom kyk en saam met hulle dié Kerstradisie te geniet en te bevorder.

Kersvader stop hier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version