Editor's choiceNewsSchools

Juffrou Noldi groet Roodebeeck

Laerskoolhoof tree na 40 jaar af

Onderwysers en leerders van Laerskool Roodebeeck in Witpoortjie groet aan die einde van die skooljaar hul skoolhoof.

Noldi de Bruyn was betrokke in die onderwys vir meer as 41 jaar, waarvan 40 jaar by Laerskool Roodebeeck was. “Ek voel dit is nou tyd vir my om rustig te raak,” het Noldi gesê.

Sy was ‘n plaaskind van Fochville met ‘n groot droom – om ‘n onderwyseres te word. Na haar skoolloopbaan by Hoërskool Fochville het sy haar studies by die Goudstadse Onderwyskollege in Johannesburg voltooi. Haar heel eerste onderwyspos was by Laerskool Dagbreek in Noordwes en in 1977 het sy by die destydse Laerskool Witpoortjie begin skoolhou. Toe die skool na dubbelmediumonderrig oorgeskakel het, is die naam na Laerskool Roodebeeck verander.

In 1991 is sy as departementshoof aangestel, in 2000 as adjunkhoof en in 2008 as die hoof van die laerskool. Sy het van die begin af ‘n groot verskil in die gemeenskap gemaak en het Roodebeeck met ‘n kalm, maar ferm hand gelei en bestuur.

Volgens Marie Venter van Laerskool Roodebeeck was Noldi ‘n toonbeeld van die bekende spreekwoord, “Klein botteltjies, groot gif!” Noldi het twee Comrades Marathons en twee Twee Oseane-wedlope voltooi. Sy het ook die afgelope nege jaar as vrywilliger vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gewerk.

Noldi, wat deur haar kollegas beskou word as die vrou van staal, sien daarna uit om baie meer tyd saam met haar man, kinders en kleinkinders te spandeer.

Marie het die volgende boodskap van die skool en personeel aan Noldi oorgedra, “Juffrou Noldi, mag u nou u swaarkry met al die lekkerkry van aftree, klaarkry. Mag God saam met u wees waar u ook al gaan.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button