Aftree-oordsentrum opgekikker

Inwoners baie opgewonde oor nuwe gemeenskapsentrum

Die inwoners van Waterval Village Aftree-oord was baie opgewonde om die opening van hul opgegradeerde gemeenskapsentrum op 26 Oktober met die Record te deel.

Die opgradering was ‘n prioriteit vir almal wat betrokke is by Waterval Village. Madelein Prinsloo van Uni-Arch is genader om te help met idees om die sentrum mooi te maak. Sy het besluit om, as ‘n bydrae tot die gemeenskap, die aftreeoord gratis met die projek te help. Sy het alle tenders voorberei en planne opgestel wat aan die raad voorgelê en goedgekeur is. Die opgradering het in Augustus begin.

Die opgegradeerde gemeenskapsentrum. Foto: Verskaf

Con van der Westhuizen, die bestuurder van die aftree-oord, het die verrigting met ‘n gebed geopen. Daarna het die voorsitter van die raad, Herb Brändli aan die woord gekom. “Ek wil julle nie te lank besig hou met my toespraak nie, ek glo julle is almal baie nuuskierig om die binnekant van die sentrum te sien. Ek het net ‘n paar dankies om te sê,” het hy gesê.

Hy het begin deur die inwoners vir hul geduld en verdraagsaamheid tydens die opgraderingsproses te bedank. Die kantoorpersoneel, skoonmaakpersoneel, kombuispersoneel, bouers sowel as die argitek is bedank. “Ek wil ‘n spesiale dankie sê aan Madelein Prinsloo, die argitek van Uni-Arch. Sy was baie geduldig met ons wat die planne omtrent sewe keer verander het,” het hy laggend gesê. Hy het sy toespraak afgesluit met die volgende woorde, “Ek het net ‘n paar woorde om die binnekant van die sentrum te beskryf – dit is stylvol tog eenvoudig.”

Sakkie Lombard, Madelein Prinsloo en Herb Brändli.

Die gemeenskapsentrum is amptelik deur Herb en Madelein geopen toe hulle die lint met groot opgewondenheid geknip het. “Hierdie sentrum is julle s’n om te gebruik. Dit is waar ons kerkdienste gaan hou, die oefensessies sal hier plaasvind en dit is ook waar julle speletjies soos Bingo en Scrabble kan speel,” het Herb gesê.

Die inwoners is met heerlike eet- en drinkgoed bederf en het die gemeenskapsentrum op ‘n feestelik wyse ingewy.

https://www.youtube.com/watch?v=iTQ6OZ_5FSQ&feature=youtu.be

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein HeraldKrugersdorp News and Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Exit mobile version