Carpe diem – Gryp die dag

Lewe elke dag ten volle, môre is nie gewaarborg nie

“Niemand is die dag van môre gewaarborg nie en ek maak die beste van elke dag wat ek het.”

So het Salomé Joubert, ‘n Roodepoort-inwoner gesê nadat sy met terminale bors- en eierstokkanker gediagnoseer is. Salomé se pad met kanker het in 2011 begin. Tydens ‘n roetine ginekologiese ondersoek is gewasse op haar eierstokke ontdek, wat kwaadaardig was.

Sy het chemoterapie ondergaan en nadat dit voltooi is, het sy vir haar drie- en sesmaande-ondersoeke gegaan. “Alles was 100 persent,” het sy vertel. In 2013, met haar roetine ginekologiese ondersoek en mammogram is ‘n gewas in haar bors ontdek. “Hulle het dadelik ‘n biopsie gedoen en ek is met borskanker gediagnoseer. Ek het sommer dadelik besluit om ‘n dubbele mastektomie te ondergaan.” Daar is ook weer eierstokkanker gediagnoseer.

Sy het in 2015 weer met chemo begin en haar laaste sessie was in September 2015, ‘n paar dae voordat haar oudste suster oorlede is. Salomé is as terminaal gediagnoseer aangesien daar nie meer opsies vir haar is nie – operasies is buite die kwessie, bestraling werk nie vir eierstokkanker nie en sy kan ook nie meer chemoterapie kry nie. Sy gaan elke vier maande vir ‘n CT-skandering omdat dit die enigste manier is om die kanker dop te hou.

Salomé het intussen op die realiteitsprogram, Mooi van Binne verskyn, wat elke Dinsdag om 5.30nm op kanaal 147 op DStv gebeeldsend word. Die doel van die program is om deelnemers op ‘n reis te neem om aan hulle te bewys dat enige iemand op die voorblad van ‘n tydskrif kan verskyn. Die deelnemers se hare en grimering word gedoen, waarna hulle drie fotosessies saam met ‘n professionele fotograaf kry.

Dié sessies word gebruik om deelnemers beter te leer ken en hulle die kans te gee om hul storie te vertel om ander wat dalk met dieselfde probleem worstel, te inspireer. Die drie kategorieë is fantasie (deelnemer se keuse), fotograafkeuses (hoe ander mense hulle sien) en dan die broos foto’s (om te wys hoe mooi hulle regtig is).

Nerine Bleeker was Salomé se fotograaf. Salomé se fantasiefoto was ‘n towerfee, omdat sy graag almal se drome wil laat waar word. Nerine het ‘n glam sessie vir haar gekies, want sy wou vir Salomé weer vroulik laat voel.

“Met die Here se genade het die kanker nog nie my organe aangetas nie en met gebede en medikasie uit Ierland probeer ons dit weghou. Ek gaan in Februarie volgende jaar vir my volgende skandering en sal dan weet waar ek staan met die kanker. Dit is asof ek elke vier maande met ‘n nuwe lewe begin,” het Salomé afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version