Editor's choiceLocal newsNews

90 jaar jonk

Roodepoort-inwoner vier nege dekades

“Ek het altyd gebid en gevra vir ‘n lang lewe, maar het nie bedoel so lank nie,” het Sussannah (Suzie) Zwartz laggend gesê.

Sy het die afgelope naweek haar 90ste verjaarsdag saam met familie en vriende gevier. Volgens haar is ‘n hoë ouderdom ‘n swaar ding om om jou nek te dra en is nie altyd lekker nie. “Ek sukkel maar om te hoor en te sien, maar ek is elke dag dankbaar dat die Here my nog ‘n dag gespaar het. Solank ek darem nog kan loop en redelik oor die weg kan kom is ek gelukkig,” het sy gesê.

Sy is as die middelste van agt kinders – vier seuns en vier dogters – in die dorpie Keimoes in die Noord-Kaap gebore en het op ‘n plaas grootgeword. “Ek is in die Noord-Kaap gebore, het daar grootgeword, my man ontmoet en is daar getroud. Ons het drie kinders saam gehad – twee dogters en een seun,” het sy vertel. Haar grootste wens was om nie soos haar ouers te wees vir wie geleerdheid nie ‘n prioriteit was nie. Sy wou seker maak haar kinders kry ‘n goeie geleerdheid.

“Ek het altyd gebid en gevra dat die Here my in staat sal stel om dié een ding vir my kinders te doen,” het sy gesê.

Hulle het later in Pretoria gaan woon en in 2002 Roodepoort toe getrek, waar sy steeds woon.

Bedags luister sy maar meestal radio, want haar sig is nie meer so goed nie. “Omdat ek nie meer so lekker kan sien nie, kan ek nie meer my gunsteling goed doen soos hekel, kook en lees nie,” het sy met groot verlange in haar stem vertel.

Maar die groot vraag is, waaraan skryf sy haar hoë ouderdom toe? Haar antwoord is eenvoudig, “My ma het altyd gesê ek is baie besonders vir haar en dat die Here ‘n lang lewe sal gee aan dié wat aan hulle ouers gehoorsaam is”.

Sy sluit af met ‘n stukkie wysheid,

“Moenie net sit en na die ou lady luister nie, maar gaan uit na buite en wees ‘n lig in die duisternis”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button