Editor's choiceLocal newsNews

Klarieze se sprokiesverhaal

Haar matriekafskeiddroom is bewaarheid met die gemeenskap se hulp

“Ek was so geskok om te sien daar is nog soveel mense daarbuite wat omgee en wil help,” het Klarieze Albrecht, ‘n matriekleerling van Hoërskool Roodepoort gesê oor haar matriekafskeiddroom wat bewaarheid is.

Sy het vertel dat sy vandat sy kan onthou al uitsien na die matriekafskeid, maar het hierdie jaar besef dat sy dalk nie die spoggeleentheid sal kan bywoon nie. “Hoe nader die afskeid gekom het hoe meer het ek my bekommer.

Ek het geweet my ouers sal nie die finansies kon bybring dat ek kan gaan nie, en ek het besluit ek sal eerder by die huis bly as om ekstra druk op hulle te plaas,” het sy vertel.

Klarieze se ouma werk by Horison Laerskool se naskoolsentrum en het vir een van haar vriendinne gevra of sy nie dalk van iemand weet wat kan help met ‘n rok vir Klarieze nie. Chrissie Nel het sake in eie hande geneem en ‘n lid van die Vroue-Landbou-Unie (VLU) in Krugersdorp geskakel. Die VLU-vroue het gou rokke bymekaar gekry en vir Klarieze laat weet om te gaan kyk of daar iets is waarvan sy hou.

Klarieze het vertel hoe uit die veld geslaan sy was deur die aanbod. “Ek het na die tannie toe gegaan en ‘n mooi swart-en-wit rok aangepas. Sy het een kyk gegee en gesê die rok lyk nie reg nie, sy gaan vir my ‘n nuwe een maak, want ek verdien nie ‘n tweedehandse rok nie.”

En dit was die begin van ‘n warrelwind week en ‘n half. Klarieze was betrokke by die hele proses – van die materiaal kies tot by die eindproduk. Sy was baie bekommerd, want die vrou moes eers ‘n trourok klaarmaak voordat sy met die matriekafskeidrok kon begin. “Ek was so ‘n bietjie onkant gevang en was nie seker presies wat ek wou hê nie, maar ek het op die internet iets gesien waarvan ek hou.

Klarieze Albrecht and Joshua Campbell. Foto: Riaan van Zyl
Klarieze Albrecht and Joshua Campbell. Foto: Riaan van Zyl

 

Ek het baie vertroue in die tannie gehad want sy maak vreeslike mooi rokke,” het Klarieze skamerig vertel.

Die sprokie het nie daar geëindig nie. Die VLU het alles vir Klarieze geborg – haar rok, naels, hare, grimering en skoene, selfs die foto’s en die motor waarin sy na die funksie geneem is. “Ek het soos Aspoestertjie gevoel. Toe ek by die saal instap het ek selfversekerd en baie mooi gevoel; almal by die afskeid het vir my so mooi gelyk. Ek is so dankbaar vir die geleentheid om te kon gaan, anders sou ek altyd gewonder het hoe dit sou wees,” het sy gesê.

Klarieze het baie groot drome vir die toekoms. Sy wil baie graag ‘n skoonheidskundige word, maar glo dat haar ouers dit nie sal kan bybring nie. “Ek wil graag studeer en my eie besigheid begin. Dan kan ek ook mense help wat in dieselfde situasie as ek is. Die wonderlike hulp wat ek ontvang het, is vir my ‘n inspirasie om ander te wil help,” het sy vertel.

Sy het afgesluit met die woorde, “Ek sal altyd onthou wat almal vir my gedoen het. Ek wens daar was ‘n manier dat ek vir elkeen kon dankie sê.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button