Editor's choiceMunicipalNews

Water is kosbaar – moet dit nie mors nie

"Kinders moenie in die water mors nie, die oumense wil dit drink" is die woorde van 'n Afrikaanse liedjie.

“Wanneer ek in die straat loop en sien hoe water gemors word, maak dit my vreeslik seer.”

So sê Neels van Pletzen, ‘n 86-jarige inwoner van Bergbron.

Hy het nog altyd ‘n passie vir waterbesparing gehad en dit is wat hom aangespoor het om met sy eie waterbesparingsprojek in sy erf te begin.

“Almal praat van waterbesparing – van die regering tot Jan Alleman – maar niemand wil iets doen nie. Om ‘n daadwerklike verskil te maak verg energie, tyd en baie opoffering,” het hy verduidelik.

Neels is ‘n gekwalifiseerde loodgieter en het besluit om sy kennis te gebruik om ‘n effektiewe manier te kry om nie net water te bespaar nie, maar dit ook optimaal te benut.

Hy het drie watertenks in sy erf wat elkeen aan ‘n geut van die dak af gekoppel is. Wanneer dit reën, spoel die water met die geut langs tot in die tenk.

“Dié water word vir tuinnatmaak gebruik. Ek tap ook elke oggend emmers water uit die tenks wat ons gebruik om die toilet te spoel. Ek het die toilet self verander om meer water te bespaar,” het hy trots vertel.

Vir Neels is dit baie erg dat wanneer mense se gebede vir reën beantwoord word, mors hulle die water. “Ek kan nie verstaan dat mense so met Godgegewe geskenke kan mors nie,” het hy hartseer gesê.

Hy wil graag die publiek raad gee en aanmoedig om aktief betrokke te raak by waterbesparing. “Wat gaan mense doen as daar nie meer water in die kraan is nie en hulle is dors? Gaan hulle die geld hê om by die naaste supermark te gaan water koop, of gaan hulle met hul botteltjies in die hand by die persoon met die boorgat water bedel?”

Hy glo mense is traak-my-nieagtig oor waterbesparing en dat dit iets is wat iemand anders kan doen, nie hulle nie.

“Mense moet meer begin betrokke raak by waterbesparing. As jou kraan lek, maak hom reg en as jy ‘n kraan sien drup (of dit joune is of nie), draai dit toe. Gebruik ‘n glas of beker om water te drink, moenie direk uit die kraan drink nie. Al hierdie klein goedjies kan ‘n groot verskil maak,” is Neels se raad.

Hy het afgesluit met dié ware woorde, “Water is lewe en as dit klaar is, is dit klaar. Wat doen ons dan?”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button