Kruiners weet hoe om te s-p-e-l

Twee leerlinge deur na WOW-spelfees se galadag

Spelling is vir die meeste kinders ‘n hoofpyn en net die gedagte daaraan gee hulle ‘n benoude bors en natgeswete handpalms.

Dit is egter nie die geval met twee leerlinge van Laerskool Helderkruin nie. Mia Kotzee (Graad 4) en Liam Meintjies (Graad 1) het onlangs na die nasionale rondte van die Woorde Open Wêrelde- of WOW-spelfees deurgedring.

Dié galadag is op 22 Oktober in Stellenbosch.

Sanlam borg die WOW-projek met die doel om leerlinge se taalkennis en woordeskat uit te brei deur korrekte en effektiewe taalgebruik aan te moedig.

Leerlinge wat aan die kompetisie deelneem, ontvang spellyste met ‘n spesifieke aantal woorde in elke kategorie, waarvan die moeilikheidsgraad wissel. Die spellyste word deur vakspesialiste en persone met onderwyservaring opgestel.

Die graadwenners van elke skool dring deur na die finaal in hul onderskeie kringe, wat onderafdelings van onderwysdistrikte is. Wenners van die kringfinale neem dan aan die provinsiale kompetisie deel om die provinsiale kampioen te bepaal.

Die wenners van die provinsiale rondtes neem dan tydens die WOW-galadag deel, waar die Sanlam WOW Spelfeeswenner 2016 gekroon word.

Volgens Hanli-Mari Olivier, die skool se bemarkingsbeampte, knaag die senuwees ‘n bietjie aan die twee leerlinge en hulle spel dat die spoeg spat.

“Ons wens elke deelnemer sterkte toe en hou vir hulle styf duim vas. Ons weet dit sal goed gaan,” het Hanli-Mari gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version