Editor's choiceMunicipalNews

AfriForum nou in Roodepoort

Gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak

Inwoners van Roodepoort het onlangs hulle behoefte aan hulp met onder andere veiligheidskwessies en munisipale probleme uitgespreek. AfriForum het gereageer en ‘n tak in Roodepoort gestig.

Die provinsiale koördineerder vir AfriForum Gauteng-Suid, Wico Swanepoel het gesê die funksie waartydens die tak gestig is, was ‘n reuse sukses.

“Die gemeenskap blyk positief oor die pad vorentoe te wees en is ywerig om ‘n verskil te maak,” het hy gesê.

Die gasspreker was Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Alhoewel die tak in Roodepoort is, word dit die AfriForum JHB-Wes tak genoem en die bestuur bestaan uit Willie Beetge (voorsitter), Mario Enslin (ondervoorsitter), Sacha Enslin (sekretaresse), Ben Swart (tesourier), Marchia van Aswegen (omgewingsake), Zirk van Niekerk (plaaslike regering-sake), Okkie Nel (veiligheid) en Mandie Beetge (jeug).

Willie het vertel dat AfriForum ‘n redelik groot en sterk organisasie is wat ten doel het om mense met dieselfde oortuigings te help.

“Alhoewel AfriForum ‘n Afrikaanse organisasie is, is dit nie oorwegend ‘n taalbeweging nie,” het Willie gesê.

Volgens Willie is daar baie voordele om ‘n lid van AfriForum te wees. Benewens dat hulle hul lede toegang tot regshulp gee, werk die organisasie ook baie met die jeug (Helpende Hand) en raak betrokke by kwessies wat met munisipale dienslewering verband hou.

Wille glo dat dit nou tyd is vir die gemeenskap as geheel om hul stemme dik te maak oor dit wat nie reg is nie en saam te werk om dit reg te stel.

“AfriForum is ‘n groot familie wat daar is om ons lewens te vergemaklik. Enigeen is welkom om aan te sluit – dit is nie ‘n politieke beweging nie,” het Willie vertel.

Willie voel ook sterk oor die jeug en het gesê hy sal die takvoorsitter bly totdat dit goed aan die gang is en die leisels dan aan die jongmense oorgee.

Hy nooi mense om by die tak aan te sluit.

“As ons genoeg lede het, kan ons as tak betrokke raak en aan die gemeenskap teruggee. Ons kan almal baat by AfriForum, dit is nie net eksklusief vir die Afrikaner nie,” het Willie gesê.

Om betrokke te raak by die Roodepoort-tak kan jy vir Willie skakel by 011 472 3746 of hul Facebook-blad besoek. Jy kan ook ‘n sms met ‘Roodepoort’ na 45342 stuur. Elke sms kos R1.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button