Lentekonsert bring vreugde

Bejaardes bederf vir lentedag

Dit is ‘n tipiese lente-oggend. Die lug is blou, die temperatuur is matig en die plante in die tuin begin blom.

Dis die perfekte dag om ‘n lentedagkonsert te hou.

Ons Huis Ouetehuis het op 2 September hulle inwoners bederf met ‘n heerlike buitelugkonsert wat deur Wilma Venter gereël is.

Die tema vir die dag was Blomme en sommige bejaardes het blomme in hul hare gehad, serpies met blomme op of blomhoede gedra.

Almal het buite in die tuin gesit waar Marius Swanepoel ‘n feestelike atmosfeer geskep het met sy musiek en die bekende liedjies wat hy gesing het.

Marius is ‘n jong sanger van Kaapstad wat spesiaal Roodepoort toe gekom het om die dag moontlik te maak.

Marita van den Berg, die bestuurder by Ons Huis het gesê,

“Ons probeer elke jaar om op Lentedag ‘n ietsie met ‘n lentetema vir die bejaardes te reël wat ons buite kan hou. Dit is vir almal lekker om die buitelug te geniet.”

Die konsert is afgesluit met ‘n braai wat gesorg het vir ‘n heerlike middagete.

Exit mobile version