Editor's choiceMunicipalNews

Ons is dankbaar vir die verandering

Gemeenskap moet saamwerk om die area nou skoon te hou

Die inwoners van Wilropark is baie dankbaar dat die Johannesburgse Parkeraad die gras in die oop veld oorkant die NG Kerk Wilgespruit gesny het.

“Ek het jare laas die veld so oop gesien. Dis ‘n groot verandering, maar nou sien jy eers wat alles onder die gras weggesteek was,” sê Johan Visser, die inwoner wat die skoonmaak van die veld op sy skouers geneem het.

Volgens Johan is die enigste probleem nou die rommel wat die veld vol lê. Hy sê mense gebruik die veld as ‘n stortingsterrein om van hulle huishoudelike vullis ontslae te raak. Daar is ook nog heelwat bourommel in die veld.

Johan sê, “Dit lyk al baie beter as voorheen, maar ons moet ‘n plan van aksie uitwerk om die veld skoon te kry en dan in stand te hou. Ek wil nie die Parkeraad in ‘n slegte lig stel of hulle werk bevraagteken nie.

Ek dink net hierdie is ‘n geleentheid vir ons, as gemeenskap, om hande te vat en saam te werk.”

Hy voel dit sal baie goed wees om ‘n vergadering met die gemeenskap te hou om wyses te kry om die veld skoon te hou. Hy glo as die veld eers skoon is, kan die mense wat hulle rommel net daar weggooi onder beheer gekry word. “Die munisipaliteit kan dan ‘n bordjie opsit wat sê dit is teen die wet om hier rommel te stort en die oortreders kan volgens die by-wette dan vervolg word,” sê hy.

Johan Visser by van die bourommel in die veld.
Johan Visser by van die bourommel in die veld.

Al die papiere en karton wat in die veld lê is ‘n baie groot risiko. “Hulle steek die papiere aan die brand en as die wind net verkeerd of te sterk waai, kan dit ‘n groot veldbrand veroorsaak,” beduie hy.

Die uitheemse bome en jong boompies in die veld is ook vir Johan ‘n rede tot kommer. Hy glo dat die bome, wanneer volgroeid, ‘n skans kan maak tussen die pad en die veld, wat dan ‘n ontvlugtingsroete skep.

Johan glo daar is ‘n effektiewe manier om helpende hande te kry om hierdie tipe van gemeenskapsdiens te lewer.

Johan Visser is dankbaar vir die gras wat nou so kort is.
Johan Visser is dankbaar vir die gras wat nou so kort is.

Hy sê, “Mense wat gevonnis word tot korrektiewe toesig moet gewoonlik ‘n derde van hulle vonnis uitdien en dan gemeenskapsdiens verrig. Dit is gewoonlik 16 ure ‘n maand.

Hulle kan ingespan word om die veld skoon te maak en lewer dan op so ‘n manier ‘n betekenisvolle gemeenskapsdiens.”

Volgens Visser is dit altyd ‘n goeie ding om te erken wanneer iets positiefs gebeur, soos met die sny van die gras. Hy sê ook mense word so met die negatiewe gebreinspoel dat hulle altyd net wil kla.

Wat Johan eintlik aan die gemeenskap wil oordra is eenvoudig, “As ons hande vat en saamwerk, kan ons ‘n groot verskil maak.”

Lees ook:

FroK strikes unique deal with City Parks

Related Articles

Back to top button