Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Sy afsterwe laat ‘n groot leemte by Roodies

'Johan was baie geliefd en ons mis hom al klaar.'

Soos jy by Hoërskool Roodepoort se ontvangs instap word jy begroet deur ‘n tafel waarop blomme, foto’s en toekennings uitgestal is.

Dit is ‘n gedenktafel vir Johan van Niekerk, een van die skool se onderwysers wat op 23 Augustus oorlede is.

Van Niekerk was van jongs af ‘n inwoner van Roodepoort. Hy was ‘n leerling by Laerskool Horison en was in 1972 dié skool se eerste hoofseun.

Van 1973 tot 1978 was hy ‘n leerling by Hoërskool Roodepoort.

Van Niekerk het sy onderwysloopbaan by Hoërskool Die Burger begin.

In 1988 is hy as Departementshoof: Lewenswetenskappe by Hoërskool Roodepoort aangestel waar hy vir die afgelope 28 jaar skoolgehou het.

Volgens Johan van Jaarsveldt, die hoof van Hoërskool Roodepoort was Van Niekerk ‘n baie geliefde onderwyser. Hy was by rugbyafrigting as rugbyorganiseerder betrokke en was ook die voog van die Verteenwoordigende Leerderraad.

Johan van Niekerk by verlede jaar se matriekafskeid. Foto: Verskaf
Johan van Niekerk by verlede jaar se matriekafskeid. Foto: Verskaf

Hy het by baie skoolfunksies met groot sukses as seremoniemeester opgetree. “Johan het altyd voor ‘n funksie gaan oefen om die name reg uit te spreek. Hy het ook ‘n baie goeie sangstem gehad en was goed in musiek. Dit het gemaak dat hy altyd by funksies van voor af begeleiding kon gee,” het Van Jaarsveldt vertel. Van Niekerk het ook oor ‘n goeie humorsin beskik en sy gunsteling sêding was, “Vat hom, Flaffie!”

Van Niekerk was ‘n bekende en geliefde persoon in die gemeenskap en het gereeld by funksies opgetree. Hy was ‘n baie goeie konsertina- en trekklavierspeler en was een van die min mense wat ‘n vierry-trekklavier kon bemeester. “Hy sou volgende jaar afgetree het en het daarna uitgesien om sy musiekloopbaan weer voltyds aan die gang te kry. Johan het nog gereeld by skoolfunksies, troues en ouetehuise opgetree. Hy het ook vanjaar by die Innibos-fees in Nelspruit opgetree,” het Van Jaarsveldt gesê.

Van Niekerk was by ‘n koorfees by die Voortrekkermonument in Pretoria toe hy siek geword het en sy vrou met hom hospitaal toe gejaag het. “Hy het die vorige jaar reeds ‘n mantelvliesbreuk-operasie ondergaan, maar het bly kla dat alles nie vir hom reg gevoel het nie. Toe hy by die koorfees kla dat hy nie kon asemhaal nie, was dit omdat sy maagsure sy longe aangetas het. Die tweede operasie wat hulle op hom gedoen het, het hom net ‘n vyf persent oorlewingskans gegee,” het Van Jaarsveldt vertel.

Enké de Roos, 'n Graad 11-leerling wat by Johan van Niekerk klas gekry het. Foto: Adéle Bloem
Enké de Roos, ‘n Graad 11-leerling wat by Johan van Niekerk klas gekry het. Foto: Adéle Bloem

Hoërskool Roodepoort sou hierdie week ‘n feesweek gehad het, maar het dit uitgestel tot in September uit respek vir Van Niekerk aangesien hy geliefd was onder al sy kollegas, selfs dié van ander skole en leerlinge. Hy het die toekenning vir die beste matriekuitslae in Lewenswetenskappe ontvang en is ook verskeie kere as die beste Lewenswetenskappe-onderwyser aangewys.

Enké de Roos, ‘n Graad 11-leerling was baie geskok oor die afsterwe van Van Niekerk. Sy het gesê dat dit vir haar onwerklik gevoel het en dat haar hart in tienduisend stukke gebreek is. “Ek het heeldag gehuil,” het Enké gesê.

Hulle groep het sedert Graad 8 by Van Niekerk klas gekry en hy was baie populêr onder al die leerlinge. Enké vertel,

“Mnr Van Niekerk het geweet hoe om met kinders te werk en het sy vak geken. Dit was altyd vir my ‘n hoogtepunt om sy klas by te woon.”

Vir Enké is sy afsterwe baie hartseer, want hulle sou sy laaste matriekgroep gewees het voor sy aftrede.

“Hy was my held, ‘n mentor. Ek sal hom nooit vergeet nie,” het sy gesê.

Van Jaarsveldt het gesê, “Ons mis al klaar vir Johan, hy is werklik ‘n onvervangbare persoon. Ons was bevoorreg dat hy so lank vir ons geleen was.”

Van Jaarsveldt se dogter, Andri Groenewald het gesê dat sy haar pa altyd sal onthou as ‘n persoon met ‘n passie vir musiek. “Hy het sy liefde en passie uitgeleef en het ook ‘n CD uitgereik. Hy was baie trots op die CD en het dit gesien as sy nalatenskap aan sy gesin.”

Van Niekerk se vrou Carin, het bygevoeg, “Hy het tot net voor hy siek geword het, gedoen waarvoor hy lief was deur by die koorfees op te tree.”

‘n Gedenkdiens vir Van Niekerk sal Vrydag (26 Augustus) om 12nm by die skool gehou word. Die diens sal gevolg word deur ‘n boomplanting ter nagedagtenis aan Van Niekerk.

‘n Roudiens word ook op Vrydag om 4nm by die Kloofendal NG Gemeente in Opalstraat 19, Kloofendal gehou.

Lees meer:

Onderwyser onderwyser sterf

Totsiens meneer Van der Merwe

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button