Editor's choiceLocal newsNews

Een se rommel is ‘n ander se skatte

Sy lewenspad was nie sonder kronkels nie.

Met die intrapslag by Nicohan Combrink se ateljee by die Craft Village in Sparrow Village kan mens sien dat hy nie met die gewone besig is nie.

Daar kan mens amper enigiets kry; van houtgekerfde oorkrabbertjies tot ‘n tydskrifstaander wat uit die houtreling van ‘n bababed geskep is. Ouma se kraledoilies het ‘n bakkie vir lekkergoed geword. ‘n Orrel, wat lankal nie meer werk nie, gaan ‘n lessenaar word.

Hoewel die 44-jarige Nicohan altyd probeer om die goeie in elke situasie raak te sien, was sy lewenspad nie sonder kronkels nie.

Nicohan was een van die span ontwerpers wat destyds Netflorist begin het. “Ek was verantwoordelik vir nuwe rangskikkingidees en dinge het goed gegaan totdat ek die bottel ontdek het. Jong, dit was nie lank nie toe kon ek nie meer daarsonder funksioneer nie. My wêreld het in duie gestort en ek het net daar besluit om my dood te drink. Vir 10 dae was dit al wat ek gedoen het – tot ek myself in Stabilis Rehabilitasiesentrum ingedrink het.

“Daar het ek uitgedroog en besluit my lewe gaan ‘n ander wending neem.”

Nicohan het verduidelik dat hy Loving Africa onder die Woodstock Creations-vaandel begin het. “Ek is geseën met baie kreatiewe idees en ek gebruik dit weer om ander te leer,” het hy verduidelik.

Terwyl hy in Sparrow Village bly, leer hy 15 jongmense hoe om hul kreatiewe idees in ‘n wins te verander. “Die kinders is ongelooflik talentvol en hoewel hulle passies verskil, vorm hulle deel van die Loving Africa-reeks. Die probleem met die kinders is dat hulle niks het om te doen nie en sommige wend hulle tot dwelms. Ek leer hulle nie net om werk te skep uit herwinbare materiaal nie, maar ook om selfversorgend te wees. Meeste kinders het ‘n natuurlike aanleg daarvoor.”

Nicohan glo geld is nie ‘n prioriteit nie, maar ‘n glimlag gaan soveel verder. “My doel in die lewe is om ander te help,” het hy gesê.

Sy reeks word tans by die Leeupark aan toeriste verkoop, maar hy beoog om dit na Maboneng, die ‘nuwe Melville’ te neem. “Jy kan geld maak uit niks en ander leer om dieselfde te doen. Profyt lê in jou hart.”

Sy ondervinding is dat mense nie sommer geld gee nie. “As jy vir knope, tou en plastiekbottels vra begin mense uit nuuskierigheid ‘n geprek aanknoop. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Met dit in gedagte het ek hande nodig. Enigiemand wat belangstel om hul kreatiwiteit te laat vloei, kan op die webwerf www.lovingafrica.co.za aansoek doen. Sodra ek weet wat jou passie is, kan jy inval en op ‘n vrywillige basis by my kom leer hoe om nut vir afvalmateriaal te kry.”

Nicohan het vertel hy glo nie aan die woord ‘nee’ nie, en glo hy is besig om sy 67 maande vir Mandela-dag te gee.

“Die verskil tussen ‘n miljoener en ‘n boemelaar is een telefoonoproep. Loving Africa is my passie en hoewel dit eksentriek is, is dit juis wat dit mooi en uniek maak.”

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein HeraldKrugersdorp News and Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button