Editor's choiceLocal newsNews

Florida Park Familiegemeente hou karnaval

Gemeenskapskarnaval word op 3 September aangebied

As jy die woord Lentekarnaval hoor dink jy dadelik aan sonskyn, boereworsrolle, roomys, koeldrank en springkastele.

Die AGS Familiegemeente se heel eerste Lente-karnaval word op 3 September gehou.

Dit gaan in die vorm van ‘n groot gemeenskapskarnaval wees en word op Hoërskool Florida se gronde aangebied. Toegang beloop R20 per voertuig en R20 per persoon.

Eileen Erasmus en Kaitlyn Fuller by die Lentekarnaval-plakkaat.
Eileen Erasmus en Kaitlyn Fuller by die Lentekarnaval-plakkaat.

Daar gaan tradisionele kermis-kosstalletjies wees wat vetkoek-en-maalvleis, kerrie-en-rys, boereworsrolle en nog baie meer gaan verkoop. Vir dié met ‘n soettand sal daar ‘n teetuin wees waar jy tee/koffie en koek kan kry. Roomys, skyfies en koeldrank sal ook te koop aangebied word.

Kore van Laerskool Esperanza, Laerskool Florida en Hoërskool Roodepoort, asook die Randburgse Mannekoor gaan om 1nm in die markiestent optree, waarna Nicholis Louw om 6nm optree. Die kaartjies vir Nicholis Louw se optrede is R60 per persoon. Dance Fusion se dansers gaan ook die mense vermaak.

Helikopterritte gaan deur die dag aangebied word en kaartjies daarvoor beloop R250 per persoon.

Daar is vermaak spesiaal vir die kinders. ‘n Vermaaklikheidskunstenaar sal heeldag beskikbaar wees en die kinders kan inkleur, hulle gesigte laat verf en speletjies speel. ‘n Gedeelte van die rugbyveld gaan vol springkastele wees.

Die kinders betaal R50, ontvang ‘n bandjie en kan dan heeldag op die springkastele baljaar.

Daar gaan baie ander stalletjies wees, waar onder andere juweliersware verkoop gaan word. Doringkraal Proteas gaan plante uitstal en vir die motorentoesiaste sal daar oor die 60 veteraanmotors ten toon gestel word.

Die gemeente verkoop ook kaartjies teen R100 waarmee groot pryse gewen kan word. Pryse sluit kontant, vakansies en verskeie geskenkbewyse in. Die trekking vir hierdie pryse gaan op karnavaldag om 12 uur die middag gedoen word. Sou jou kaartjie getrek word, kan jy jou eie prys uit die lys pryse kies.

Baardolie van Buffelsfontein het drie geskenkbewyse vir die karnaval geskenk. Dit kan gewen word deur aan die baardkompetisie deel te neem.

Pastoor Francois Boyce nooi die gemeenskap uit om hierdie karnavaal by te woon en te geniet. Die gemeente wil graag van die karnaval ‘n groot sukses maak en kyk of dit nie ‘n jaarlikse instelling kan word nie.

Vir meer inligting kontak Kaitlyn Fuller by 011 672 8222 of besoek die kerk se webblad by www.floridaparkgemeente.co.za. Inligting is ook op hulle Facebook-blad beskikbaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button