Local newsNews

Wiskunde-blitsbrein op pad wêreldbeker toe

Syfers is sy kos.

Ethan Kirstein sit kop omlaag, totaal gefokus op dit wat hy op sy skoot vashou.

Maar dis nie ‘n selfoon of elektroniese speletjie wat hom so besig hou nie. Ethan is besig met sy voorbereiding vir die Mental Maths Wêreldbekerkompetisie in Duitsland waaraan hy later vanjaar deelneem.

Die vingers van sy een hand vlieg oor die krale van die abakus terwyl sy ander hand die antwoorde blitsvinnig neerskryf.

Ethan het vertel dat hy baie verbaas was toe hy gehoor het dat hy vir die wëreldbeker gekwalifiseer het. “Ek is baie bly vir die geleentheid en opgewonde om Duitsland toe te gaan.” Sy ma, Annamarie Kirstein het verduidelik hoekom Ethan verbaas is. “Ons het nie baie voorbereidingstyd gehad om die aanlyntoets te voltooi nie. Ons is die oggend laat weet en Ethan het die aand die toets gedoen. Hy was baie moeg omdat hy ook met eksamen besig was en het nie die toets voltooi nie. Toe ons die uitslae gekry het, het hy eintlik die senior afdeling se toets gedoen en vir dié afdeling gekwalifiseer.”

Ethan het in Graad R met A+ Students by Calculating Mental Arithmetic Tuition with the Help of Japanese Soroban (CMATHS) begin. Sy ma het gesê, “Ons was maar skepties oor die metode en ek het gedink dit is nie moontlik vir kinders om op so ‘n jong ouderdom hierdie tipe wiskundesomme te doen nie. Ons het besluit om vir Ethan in te skryf. As dit sou werk is dit goed, maar as dit nie gewerk het nie het ons niks verloor nie.”

Ethan gebruik die Anzan-metode om somme uit te werk. Dit is ‘n Japanese metode om wiskunde in jou kop te doen deur die abakus te visualiseer.

Die metode het vir Ethan al baie gehelp met sy skoolwerk, veral van Graad 1 tot Graad 3. Volgens Annamarie het dit hom ook al in die hoër grade met algebra gehelp. “Hy kan vinniger by die antwoord uitkom deur die Anzan-metode te gebruik,” het sy gesê.

Soos enige 12-jarige raak Ethan soms moedeloos wanneer hy nie saam met sy maats aan sosiale aktiwiteite kan deelneem nie omdat hy besig is om aan sy wiskunde te werk. Wanneer dit gebeur motiveer hy homself met sy ma se woorde: “Jou harde werk bring nie vandag, môre of selfs volgende week resultate nie. Opofferings is nodig om die beste te wees.”

Hy het self gesê, “Ek weet ek moet elke dag ‘n tydjie opsy sit om aan my wiskunde te werk. Wanneer ek na my toekennings en trofeë kyk, voel ek trots en my opofferings is die moeite werd.”

Annamarie het vertel dat Ethan reeds verskeie kere oorsee aan wiskundekompetisies deelgeneem het. “Hy was al in Thailand, Taiwan, Hong Kong, San Fransico en Japan. Mens kan nie glo dat hy deur wiskunde al soveel van die wêreld gesien het nie.”

Ethan is baie gedetermineerd en sien wiskundeprobleme as ‘n uitdaging. Hy sal aanhou probeer totdat hy die regte antwoord kry en gooi nie sommer tou op nie. Volgens Annamarie het Ethan sy liefde vir wiskunde by sy pa, Ben, gekry. Hy is ook nie die enigste een in die gesin wat presteer nie. Sy vyfjarige sussie, Annabelle is ook by A+ Students en het reeds aan twee streekskompetisies deelgeneem waar sy baie goed presteer het. Hulle het altwee gekwalifiseer vir die internasionale kompetisie wat later vanjaar in Korea plaasvind.

Wanneer Ethan nie wiskunde doen nie, hou hy daarvan om krieket te speel. Hy is ook baie lief vir skaak en speel graag videospeletjies.

Ethan se motivering vir homself is, “Jy moet altyd in jouself glo. Jy moet genoeg selfvertroue hê om te weet jy kan iets doen en dit regkry.”

Ben gaan saam met Ethan Duitsland toe wanneer hy van 30 September tot 4 Oktober aan die wêreldbekerkompetisie deelneem .

Om vir Ethan in aksie te sien, gaan na https://www.youtube.com/watch?v=nz3Q2Bmb5SU&feature=youtu.be.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Lees ook:

Maths whizkid off to Germany

Meet maths whizkid Dylann Holz

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button