Gevaarlike gier ruk hand uit

Ons het die twee seuns ooreenkomstig ons gedragskode gestraf

Van die ouers en leerlinge by Hoërskool Florida is ontstel oor ‘n insident wat Vrydag plaasgevind het toe een seun ‘n ander met ‘n skêr raakgesteek het.

Een ouer, wat anoniem wil bly vir haar seun se onthalwe, het gesê sy is veral gegrief omdat die skool die insident “blykbaar onder die mat ingevee het”. Sy beweer die seuns word beskerm omdat hulle rugbyspelers is.

Twee meisies in die skool het glo aan haar vertel dat “die bloed die stoep vol gelê het”. Die ouer oorweeg dit selfs om haar seun uit die skool te haal.

Die skool se onderhoof, Johan Botha, het egter gesê dat die voorval oordryf word en die storie “allerhande stertjies groei.”

“Dit was ongelukkig ‘n onnosele, gevaarlike speletjie wat ‘n lelike nadraai gehad het. Die speletjie, waar die seuns na mekaar steek en op die nippertjie die skêr omdraai, is die nuutste gier – veral in ons koshuis waar daar blykbaar nou ‘n ‘wedstryd’ tussen die seuns is,” het Botha gesê. Hy het verduidelik dat toe die twee seuns die speletjie tydens pouse gespeel het, het die een die ander per ongeluk in die hand raakgesteek. Hy het ontken dat die skool die insident onder die mat probeer invee en het gesê dat hy self die saak hanteer het.

“Ons het die twee seuns ooreenkomstig ons gedragskode gestraf. Verder het ons al die seuns wat by die gier betrokke is, bymekaar geroep en die ernstige moontlike nagevolge aan hulle verduidelik. Hulle is ook verbied om dit verder te speel,” het Botha gesê.

Botha het ouers genooi om die skool gerus te kontak as hulle die aangeleentheid sou wou bespreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Lees ook:

Bendegeweld word ‘n werklikheid by Hoerskool Florida

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version