Local newsNews

Vroue moet mekaar ondersteun

Versterk vroue en hulle sal ‘n inspirasie vir ander wees

Haar passie vir kinders en welsynsorganisasies het 43-jarige Corlia Callegaro van Helderkruin laat besluit om in te skryf vir die Lady Gracious South Africa-kompetisie wat op 4 November gaan plaasvind.

“As ‘n ma en ma-figuur van vyf kinders (vier dogters en ‘n seun) van verskillende ouderdomme, is ek deeglik bewus van die uitdagings wat hulle daagliks in die gesig staar. Boonop beskou die samelewing vroue as superwesens. Ongelukkig gebeur dit dat meer vroue onder druk vou want ons vergeet om na onsself te kyk,” het Corlia verduidelik.

Sy het vertel dat as ‘n gekwalifiseerde binnehuisversierder het sy besluit om haar beroep vir eers opsy te skuif om tuisonderrig vir hul kinders te gee. “My betrokkenheid by verskillende welsynsorganisasies wat op die nood van vroue en kinders aan die Wes-Rand fokus, het my aangespoor om my passie vir die lewe uit te leef en die moontlike geleentheid te gebruik om meer opheffingswerk onder vroue in die gemeenskap te doen. Dit sluit aan by die visie en doelstelling van die kompetisie.”

Die lady Gracious South Africa-kompetisie fokus daarop om vroue te inspireer om hul drome te verwesenlik en uit te leef, om persoonlike groei en groei in die gemeenskap te bevorder, asook om waardes te vestig, opheffing te doen en mense te inspireer.

Volgens Corlia het die land mense nodig wat mekaar kan bystaan en ondersteun deur hul unieke talente saam te voeg. “Versterk vroue en hulle sal ‘n inspirasie vir ander wees.”

Dit is nie ‘n maklike pad om te loop nie, glo sy, maar deur met ander saam te stap kan hulle saam staan as vroue van die Hemelse Vader. “Ek sien hierdie kompetisie as ‘n lewenspad en voorbereiding om as ‘n vrou en ma te groei; nie net om in my eie behoeftes te voorsien nie, maar ook in die behoeftes van my gesin, familie en die gemeenskap. Die organisasie wat ek ondersteun is die Avril Elizabeth Tehuis vir intellektueel gestremdes. Ek is tans besig om verskeie welsynsfunksies te reël om bewustheid te skep. ‘n Gedeelte van die geld gaan aan die tehuis geskenk word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button