Editor's choiceLocal newsNews

Engele bring verligting vir haweloses

Die nood daar buite is geweldig groot

Claremont — Angels on the Move, ‘n niewinsgewende organisasie is in die knyp.

So sê die stigter Dalene Boshoff.

Sy is reeds drie jaar besig om kospakkies, klere en komberse aan die hawelose mense in Claremont, Newlands en in Roodepoort uit te deel, maar nou voel sy hoe erg die petrolprys haar sak ruk.

“Ek het tot dusver alles uit my sak betaal, maar ek kan nou nie meer nie,” het Dalene gesê. Sy voeg by dat senior burgers van verskeie ouetehuise in Roodepoort na die biduur by die Victory Christian Centre in Goldmanstraat kospakkies saam neem huis toe.

“Ek het verneem dat die sopkombuisafdeling by Dorcas Aid hul deure gesluit het, maar ek sal dit graag wil oorneem en sodoende voortgaan om mense met kos te help. Ek het egter dringend donasies soos warm klere, ou komberse en warm skoene van die gemeenskap nodig.

Dalene het verduidelik dat hoewel sy reeds kos by Pick n Pay, Flora Centre en Woolworths in Hendrik Potgieterweg kry, is dit nie genoeg nie. “Die nood daar buite is geweldig groot. Dis verskriklik om te sien hoe sommige mense lewe. Deur die sopkombuis kan ek meer mense bereik,” het sy gesê.

Die eenvrou-organisasie het tot dusver donasies by vriende en familie gevra. “Ek wil dus ‘n beroep op die gemeenskap doen om my by te staan met die projek. Woolworths vereis dat die kos in ‘n toekajuitbakkie vervoer word, maar my ou karretjie is baie klein. Dit veroorsaak dat ek soms meer as een keer na ‘n plek moet ry om skenkings op te laai.”

Dalene het gesê sy het ‘n langas-bakkie en petrolgeld nodig om voort te gaan met haar werk. “Dit raak nou net te duur om alles te bekostig. Meeste mense het nie vervoer nie, so ek laai die kos, wat Doreen van Rooyen kook, by die mense se huise af.”

Indien daar iemand is wat Dalene kan bystaan, kontak haar by 084 515 3974.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button