Afrikaans is belangrik vir Bastion

'n Paar gedigte was onder bespreking

Die ATKV het onlangs by Hoërskool Bastion ‘n werkswinkel aangebied wat Afrikaans bevorder.

Die Departementele Fasiliteerder vir Afrikaans Distrik 2, Sophia Brown het die werkswinkel vir die distrik se omliggende skole georganiseer. Daar was nagenoeg 70 onderwysers teenwoordig. Volgens Betjie Groenewald, Hoërskool Bastion se Departementshoof: Afrikaans wat ook betrokke was by die reëlings, was die hoogtepunt van die geleentheid die gasspreker dr Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg se Departement Afrikaans.

“Sy het op ‘n unieke manier aan die hand van ‘n paar moderne gedigte die ontleding van ‘n gedig bespreek. Dit het op ‘n interaktiewe wyse plaasgevind en onderwysers kon insette lewer en vrae vra,” het Betjie gesê. Sy het bygevoeg dat die sosio-ekonomiese en politieke milieu waarin gedigte geskryf word ter sprake gekom het.

“Sy het beklemtoon dat, hoewel die gedig se agtergrond belangrik is, daar op die gedig self gekonsentreer moet word, soos die universele boodskap in die gedig dat mense se onmenslike optrede geen kleur en stand ken nie.”

Nog ‘n hoogtepunt was dat Carla Grobbelaar, wat in 2011 by die skool gematrikuleer het, ook die werkswinkel bygewoon het. Carla het ‘n besondere prestasie behaal deur die sesde hoogste punt in Gauteng (283 uit 300 of 94,33 persent) vir Afrikaans Huistaal te behaal. “Sy het haar BEd-graad (cum laude) in 2015 voltooi en het die werkswinkel as onderwyseres van Lantern Skool bygewoon. In haar matriekjaar het sy ook die eerste plek in Gauteng vir Toerisme beklee met ‘n fenomenale punt van 290 uit 300 (96,67 persent).”

Volgens Betjie was die werkswinkel veeldoelig aangesien die Graad 11 Gasvryheidstudie-leerlinge die besoekers op ‘n heerlike High Tea getrakteer het.

“Dit het terselfdertyd as hul praktiese eksamen gedien waarvoor hulle geëvalueer is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version