Wandelpad lei na reuse gemors

'n Sluipslaper gebruik al dié veld as sy persoonlike woning die afgelope twee jaar.

‘n Wandelpad tussen Ontdekkersweg en die NG Gemeente Wilgespruit gee vir Johan Visser die horrie-piep.

Dis nie net die feit dat die gras so lank laat staan is nie, maar ook die boumateriaal, vullis en weggooi-items wat in dié stukkie land onwettig gestort word, om nie eers die sluipslapers te noem nie. Die oop stuk grond se huidige toestand is ‘n belediging teenoor die enorme motorhandelaars aan weerskante, meen hy.

Dit wil voorkom Pikitup-werkers se onlangse staking het ook nie juis gehelp om dié veld netjies te hou nie. Inteendeel, hope swartsakke vol huis-afval kan tussen die ander rommel geïdentifiseer word. Dit is ook ‘n lekker middeweg vir voetgangers tussen Ontdekkersweg en Princess se inkopiesentrum en die stille buurt van Wilropark. Visser, wat naby die kerk woon, is vies oor die gemors maar selfs meer vies dat die munisipaliteit se reaksie maar traag is.

“Dit is, as hulle enigsins reageer,” het hy laat hoor.

Visser het ook nie sy plig as inwoner om die saak te rapporteer versuim of afgeskeep nie. Al sedert Oktober 2014 het hy om die beurt met verskeie raadslede gesels en selfs die plaaslike munisipale kantore (in Christiaan de Wetweg) met foto’s as bewyse benader. Verlede jaar het hy nogmaals vir Wyk 83 raadslid, Suzanne Clarke genader oor die groeiende probleem in die oop stuk grond.

“Hier was pragtige groot kareebome op die stukkie land, maar hulle is verwyder sonder enige kennisgewing, ek weet nie of ‘n wettige roete gevolg is nie,” het hy die Record vertel.

“Die situasie vererger gaandeweg en ek sukkel dat die munisipaliteit kennis neem of aandag skenk.”

Terwyl Visser die Record deur die veld gewys het, het hy op ‘n sluipslaper, wat hy sê al sedert 2014 daar slaap, afgekom. Dié was besig om sy ‘kamer’ aan die kant te maak. Hy het vertel hy kom van Richardsbaai af en het geen heenkome nie. Nog twee mans het een van die verskeie wandelpaadjies deur die grond gebruik om na Wilropark se inkopiesentrums te loop.

“Na regte behoort so ‘n probleem vinnig-vinnig uitgesorteer te word, en gemonitor word na die eerste skoonmaaksessie.

“Dit kan tog nie moeilik wees om die betrokke partye hier te kry vir ‘n paar dae nie.”

Visser is bitter dat raadslede gereeld in koerant artikels spog hoe hulle ‘n parkie of area help skoonmaak het, maar hom plein ignoreer.

“Is dit oordat ek al verskeie voorstelle aan hulle gemaak het van hoe ons te werke kan gaan?” wonder hy.

Hy meen dat dit eenvoudig hoort te wees om tussen Pikitup, City Parks & Zoo, die nooddienste en Metro Polisie ‘n operasie te reël en die plek net te hou. Daar hoort ook van Metro Polisie af ingetree te word rondom sluipslapers, sê hy.

Die Record wag op terugvoer van Clarke en Yolande van Rensburg by die plaaslike munisipale kantore.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version