Roodie Filmfees ‘n reuse sukses

Filmfees vroeër in Mei was lekker vermaak vir oud en jonk.

Die Afrikaanse filmfees by Laerskool Roodekrans vroeër vandeesmaand het behoorlik gekook.

Die massas, insluitend leerlinge se ouers, grootouers, familielede en vriende, wat bygewoon het was fenomenaal. Selfs oud-Roodies het nuuskierig by hul alma mater kom rondsnuffel. Wonderlike weer het die naweek die moeite werd gemaak.

Die aktiwiteite van die Vrydag is met ‘n filmvertoning op die rugbyveld afgesluit. ‘Pad na jou hart’ was die topkeuse. Graad R leerlinge het hul eie ‘inry-karretjies’ aankoop en die fliek daarbinne geniet, terwyl mammas en pappas heerlik aan die kos in piekniekmandjies gesmul het. Lekker warm cappucinos is deur Graad 1 personeel verkoop teen die bytende koue en dors.

“Dit was ‘n mooi prentjie om die hele gesin knus onder kombersies te sien die fliek geniet,” het skoolwoordvoerder Theolene Pienaar gesê.

Die Saterdagoggend het bedrywighede skuins na 6vm begin. Stalletjies is opgeslaan, speletjies reggekry, braaivleisvure aangesteek en pannekoek, vetkoek, hamburgers en koeldranke reggemaak vir die groot uitverkoping.

Na ‘n openingseremonie het die verrigtinge amptelik begin.

“Die teetuin was immer gewild en baie besig die hele Saterdag,” het Pienaar laat hoor.

“Die kaskarwedrenne was net so ‘n groot hoogtepunt, almal, insluitend die onderwysers, het hul gate uit geniet!”

Sondagoggend is die fees afgesluit met ‘n dankseggingsdiens. Pastoor Stefan Zeelie het die boodskap behartig met sy tema, ‘Is God nog in die draaiboek van jou lewensverhaal?’.

“Dit het baie stof tot nadenke gelaat,” het Pienaar afgesluit.

Die skool bedank graag klasborge, klasverteenwoordigers, verkopers, skenkers, ouers, die skoolhoof, Roodies en skool personeel vir al hul bydrae. ‘n Spesiale woord van dank aan Paul Botha, ‘n Roodie-ouer wat sy filmtoerusting beskikbaar gestel het vir gebruik met die vertoning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version