Map en maatjies indrukwekkend op verhoog

Florries gee 'n briljante vertoning van 'Die Krismis van Map Jacobs'.

Die laaste aankomende trein het almal laat asems ophou en binne minute daarna is die vertoning verby.

Wat ‘n vertoning was dit nie toe Hoërskool Florida leerlinge in die skoolsaal die verskillende karakters in Adam Small se Die Krismis van Map Jacobs vertolk het nie! Die Record is genooi om die produksie mee te maak en was in vervoering saam met al die leerlinge in die gehoor. Die dramastuk handel oor bendeleier Map Jacobs wat na sewe jaar in die tronk op parool uitstap, terug na ‘n wêreld van ontworteldes wat uit die Kaap na die Vlaktes toe geskuif is en met hul eie realiteit worstel. Die gehoor leer ook hoe Map in die tronk beland het, maar dit is duidelik tussen die kinders dat hul reeds met verskeie tonele uit dié voorgeskrewe drama bekend is.

Onderwysers Hesta van Straten en Johané Marais het die regie hanteer terwyl Heinrich Hamm klank en beligting behartig het, wat tot ‘n indrukwekkende klimaks gedurende die toneel met die aankomende trein gebou het. Sonder om te veel weg te gee, is Map (Christian Fourie) ‘n veranderde mens teen die tyd wat hy die tronk uitstap — of ís hy? Die hele gemeenskap is aan die skinder skuins voor hy parool toegeken word. Onder dié wat skinder is Miriam (Caitlin Oelofse) van Samsodien Tailors, Willy la Guma (Zander Henery) wat al ewig aan die oefen is en Richie (Divan Godfrey), Tommy (Phill Farmer) en Cyril (Cullen Cole) wat gereeld op die straat rondflenter. Die nuus dat hy dalk binnekort mag uitkom is ontstellend vir Auntie Maud (Lisa Esterhuizen) en Cavernelis (Renandt Swanepoel), Blanchie (Michelle Moolman) se ouers wat eintlik net na ‘n beter toekoms vir haar streef. Sy was jare gelede in ‘n verhouding met Map maar het hom afgesê na lelike skinderpraatjies haar bereik het.

Map se steunpilare gedurende sy tronkstraf, Apostel George en sy ma, Grootmeisie is briljant deur Sifiso Masemola en Krizaan Jordaan vertolk. Ander straatmense is deur Monique Swanepoel, Anne-Ri Taljaard, Quintin van Loggerenberg, Carla Kotze en Mariska van Aswegen vertolk. Die maatskaplike werker, Miss Africa is deur Frya Bergh vertolk.

Saam met die opvoering het die skool ‘n oulike kamma-koerant, die ‘Vlakte Flitse’, uitgegee wat handel oor die teks. Die produksie was vir ‘n totaal van drie aande op die planke en menigte kinders van ander skole, sowel as ouers, het die geleenthede meegemaak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version