‘Ek’s onskuldig!’

Ek is in die openbaar verneder, toegesluit terwyl ek onskuldig was en as gevolg daarvan kry ek nie werk nie

Dis reeds drie weke nadat Charmaine Botha uit ‘Sun City’ gevangenis vrygelaat is, en sy kry steeds nagmerries oor die gebeure.

Botha, 43, het vertel dat sy en ‘n vriend, Jarred Koch op 16 Maart na Dis-Chem in Victory Park toe gery het om ‘n geskenk vir sy ma te kry. “Die sekuriteitswagte het gesien hoe Jarred ‘n elektriese tandeborsel en naelpolitoer steel en hulle het ons summier gearresteer. Jarred het aanhoudend gesê dat ek onskuldig is, maar hulle het hulle doof gehou.” Sy is glo ook nie deur die wagte deursoek nie.

Kort daarna het die Linden Polisie opgedaag en hulle is gearresteer. “Ons regte is glad nie voorgelees nie. Daar is ook nie gesê waarvoor ek gearresteer word nie en ek het niks geteken nie. Daar is net gesê ek moes my ringe afhaal,” het sy vertel.

Sy en Koch het die volgende dag in die hof verskyn. Nadat hy skuld erken het, het Koch glo weereens aan die hof verduidelik dat Botha onskuldig is maar volgens haar het hulle dit net geïgnoreer. “Ons het in die hof verskyn en die volgende oomblik was ek in die vangwa. Voor ek my oë kon uitvee het ons voor ‘Sun City’ gestop. Ek was in ‘n toestand. Ek moes kaal uittrek en op my hurke voor die beamptes gaan sit. Daarna is ek brood en konfyt gegee en na my sel toe gevat.”

Botha het gesê sy het eers amper twee weke later weer in die hof verskyn en is vrygelaat op R1 000 borg. “Intussen is ons voertuig ook gesteel en my man, Hannes en my seun Gerald het van die huis na die gevangenis gestap om my te gaan haal. Ek het my werk verloor asook ons verblyf.”

Die saak is uiteindelik op 9 April van die rol geskrap. “Ek is in die openbaar verneder, toegesluit terwyl ek onskuldig was en as gevolg daarvan kry ek nie werk nie,” het ‘n ontstoke Botha vertel.

Volgens kaptein Alex Vermaak, waarnemende woordvoerder van Linden Polisie, is daar vir Botha gesê waarom sy gearresteer is. “Enige persoon wat gearresteer word, moet ‘n vorm teken waarop hul grondwetlike regte uiteensit en verduidelik word. Op die vorm word ook verduidelik waarom die persoon gearresteer is. Botha het die vorm self onderteken.”

Volgens die Dis-Chem bedryfsdirekteur, Brian Epstein, is die maatskappy onder geen verpligting om kommentaar te lewer nie, maar het gesê dit is Dis-Chem se beleid om kriminele klagte teen [vermeende] winkeldiewe te lê en die persoon sal nie aankla word as daar nie genoegsame bewyse is nie. “Daar is kringtelevisie in al die winkels en dit is genoeg om ‘n persoon te arresteer vir diefstal.”

Volgens hom sal die maatskappy glad nie met enige van die (aangeklaagde) partye kommunikeer nadat hulle gearresteer is nie. “Die verdagte en/ of die familie moet deur die regstelsel met ons kommunikeer.”

Intussen het Botha gesê hulle gaan die saak beslis nie daar laat nie en is reeds besig om regsadvies in te win.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version