Local newsNews

Vier nuwe teater-produksies oppad

ROODEPOORT – Minifees van teaterproduksies maak in April en Mei sy opwagting by die Roodepoortteater.

Teaterliefhebbers is verseker in vir ’n groot bederf met Lefra Produksies wat Roodepoort Teater besoek vanaf April tot Mei met vier gewilde teaterproduksies. Die produksies sluit in, Daa’ Gat die Bruid, Groet die Grotheld, As Drome Vlerke Kry en Die Stripshow.

Lefra Produksies is bekend vir hul skaterlagproduksies wat hulle na feeste regoor die land neem. Die keer is dit Roodepoort se beurt. Daa’ Gat die Bruid kom eerste aan die beurt vanaf 12 tot 15 April. Dit is die vertaalde weergawe van ’n werk deur Ray Cooney en John Chapman wat deur Frans Swart verwerk is. Volgens Lefra Produksies was hierdie produksie die topverkoper by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Die produksie spog met top akteurs soos Ana van Achterbergh en Lieb Bester. Frans Swart hanteer die regie. “Die lekkerte is dat hierdie klug nog nooit in Suid-Afrika opgevoer is nie en dus ken niemand die storie of ontknoping nie,” het Swart gesê. Die storie gaan oor ’n droom-troudag wat gou in ’n drama ontaard.

In Groet die Grotheld speel Cobus Venter die rol van Gert Struwig. Gert is nie die tipiese metroman nie, maar’n grotman. Hy leef vir rugby. Sy hele lewe en al sy beplannings word om rugby beplan. “Dis snaaks want die gehoor sal hulself erken,” het Venter gesê. Die produksie vind op 26 en 28 April plaas.

Op 29 en 30 April kan kykers verwag om Arina de Witt en Hennie Smit op die verhoog te sien met die produksie, As Drome Vlerke Kry. Dit handel oor die lewe in ’n aftree-oord en die konserttyd by Huis Silwerjare en almal is in rep en roer om alles reg te kry vir die verhoog.

Die Stripshow is die vierde produksie wat op 4, 6 en 7 Mei plaasvind. Timothy Kieswetter is ’n bekende teoloog asook Bybel- en seksualiteitskenner. Lefra Produksies beskryf dit as ’n “one-man-show” met ’n twist. Daar gaan dele van Kieswetter ontbloot word wat nog nooit gesien is nie, maar daar word egter met woorde en nie klere gestrip nie.

Kaartjies vir die minifees by Roodepoort Teater kan by Computicket bespreek word. Indien jy vir al vier bespreek, kwalifiseer jy vir ’n 30 persent afslag.

Besonderhede: Lefra Produksies, 011 815 3000.

Related articles: Dance showcase will heat up Roodepoort Theatre

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button