Local newsNews

Skaterlag vir dié troue manewales

Daa' Gaat die Bruid! was 'n heerlike bederf vir teatergangers dié week.

Mense kon nie hul lag inhou vir die meerderheid van die tyd wat hul in die Roodepoort Teater gesit het vir Daa’ Gaat die Bruid! nie.

Dinsdagaand 12 April het dié produksie deur Lefra Produksies by die Roodepoort Teater geopen en genooide gaste was in hul noppies met die rekwisiete op die verhoog en veral die akteurs se puik spel.

Sonder om te veel weg te gee, gaan die klug oor hoe dinge verkeerd mag gaan vir die bruid se familie op die dag van die troue — veral as die nuwe skoonouers, ‘n vergeetagtige oupa en histeriese ouma, ‘n mal pa, senuweeagtige ma en ‘n 20s flapper-meisie betrokke is. Die dramastuk is van ‘n Londense West End-produksie af, There Goes the Bride, verwerk en vertaal. Frans Swart, wat die regie, vertaling en verwerking behartig het, het die aand geopen en gesê die gehoor moet welkom voel om op enige tydstip gedurende die optrede te lag, te klap, te huil en selfs ‘n staande toejuiging te gee, want dit is die tipe erkenning wat sy span vir hul harde werk verdien.

Die sitplekke is vinnig opgeneem toe die klokkie lui. Vooraf het genooide gaste hulself aan smullekker etes by die Stages restaurant of drankies in die voorportaal verlustig. Diegene wat mooi opgelet het, kon Marga van Rooy, wat die histeriese ouma speel, deur die voorportaal sien inglip om vir die optrede reg te maak. Die ander rolle word vertolk deur; Cobus Venter as die pa, Edrien Erasmus as die ma, Debré Rossouw as die buid, Lieb Bester as die oupa, Ana van Achterbergh as die flapper-meisie, Phillru van Achterbergh as die assistent en Gert van Tonder as die aanstaande skoonpa. Die klomp het lekker laf geraak op die verhoog, en moes soms hard werk om self hul lag in te hou. Cobus Venter is rats en veelsydig in sy rol, terwyl Edrien Erasmus die prentjie van ‘n Pretoria-mamma is. Phillru van Achterbergh moes sy storie ken aangesien hy meer as net ‘n assistent moes wees. Lieb Bester het geskitter in sy rol as dowe, lastige en later dronk oupa.

Ongelukkig het die span op 15 April hul laaste optrede by Roodepoort Teater waarna hulle aan die boord van die MSC Sinfonie die Oppiwater Kunstefeesgangers sal vermaak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button