VLU: Universiteit van die volwasse vrou

Die Vroue Landbou Unie soek jou, Roodepoort vrou, as lid.

Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Roodepoorttak was oor die afgelope naweek die gasvroue vir al die takke van die streek met hul jaarlikse konferensie.

Volgens VLU Roodepoort se skakelbeampte, Joey du Toit is die unie wyd bekend as die “universiteit van die volwasse vrou”. Dié organisasie werk hard om hul lede beter matriarge, aktiewe lede van die gemeenskap en trotse landsburgers te maak. Hul kom een keer ‘n maand bymekaar en bly saam op hoogte van sake deur interessante praatjies, gereëlde kos- en kultuurdemonstrasies en kompetisies te reël. Die vroue spits hul ook toe op gemeenskapsake en gaan saam op uitstappies.

“Verder kuier ons net lekker saam,” vertel Joey, laggend.

Vanjaar se tema is ‘Samewerking vir ‘n beter toekoms’, en in dié verband het Herma Adams van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) die vroue oor ATKV AbbAsorg toegespreek. Met die program werk die vereniging om vroëe kinderontwikkeling te bevorder.

“As jy nie die eerste trappe van die leer kan bereik nie, kan jy hom nie klim nie,” het Adams verduidelik.

Adams het voorgestel dat die ATKV en VLU saamspan om die program te ondersteun.

Die vroue is ook deur Katrien Jooste-Klopper, ‘n welbekende violis wat al met groot name soos Luciano Pavarotti en Michael Bublé die verhoog gedeel het, trakteer. Sy het bekende stukke, soos ‘Come fly with me’ van Frank Sinatra, gespeel.

Lidmaatskaptoekennings het ook deel van die oggendprogram uitgemaak, sowel as die uitdeel van getroue dienssertifikate.

Na tee en verversings is die middagprogram met die algehele jaarvergadering begin. Die jaarverslag en finansiële verslag is aangebied waarna die voorsitter, vise voorsitters en skakelbeampte verkies is. ‘n Prysuitdeling het gevolg.

Joey en die res van die vroue nooi graag die vroue van Roodepoort en Florida om by hul aan te sluit. Vergaderings word elke derde Donderdag in die Hervormde Kerk se kerksaal in Georginiastraat, Horison gehou. Vir verdere inligting skakel Joey by 011 672 6961 of 083 424 9663.

Hoor hoe mooi Katrien Jooste-Klopper kan speel:

https://www.youtube.com/watch?v=Od0Gn6P4NU4&feature=youtu.be

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 414 6709.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version