Gemeenskap rou na Bastion-seun sterf

Vriende was lief vir hom.

Familie en vriende is geruk deur die tragiese selfdood van die 16-jarige Hoërskool Bastion-leerling André van Schalkwyk.

André se liggaam is Maandag in sy ouerhuis gevind.

Die familie se woordvoerder, André se stiefpa Petrus Swanepoel, het mooi herinneringe van hom.

“André was ‘n groot Sharks- en Manchester United-ondersteuner en het geglo die teenstanders was altyd verkeerd. Met daardie selfde onwrikbare lojaliteit het hy ook geglo niemand kan sy pa se Chev ST in ‘n ren klop nie. Soos enige volbloed tienerseun was hy lief vir biltong, skyfies en veral pizza, en was altyd reg met ‘n Brakpan-grappie. André het altyd die mooi in almal gesien en sy vriende vertel dat hy altyd daar was vir hulle om advies te gee of sommer net te luister.

“Hy het baie uitgesien om na sy matriekjaar te gaan backpack en saam met sy vriende te party. Sy boesemvriende was Shaun, Danie en Donovan en die drie was onafskeidbaar,” het ‘n hartseer Petrus vertel.

Petrus het “groepsdruk en depressie” as redes vir André se selfdood aangevoer.

Maureen Ludik, eienaar van Sterretjie Kleuterskool waar André lank in die naskoolsentrum was, het hom as volg beskryf.

“Hy was soos sonskyn; sag en het altyd geglimlag. Hy kon ‘n grappie vat en ‘n grappie maak. Ek sou geld betaal het om meer sulke kinders in my skool te kon hê,” het ‘n bewoë Maureen aan die Record gesê.

Ten tyde van publikasie kon Hoërskool Bastion nog nie vir kommentaar bereik word nie.

André se begrafnis word dié Vrydag om 12nm in die MOTH-saal op die hoek van Greenstraat en 4de Laan in Florida gehou.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 414 6709.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version