Local newsNews

Kruiners leer saam Joshua oor kinder kanker

Joshua Coetzee, 'n 12-jarige kanker pasiënt met Ewing sarcoma, het sy verjaarsdag gebruik as 'n bewusmakingsveldtog.

Joshua Coetzee se 12de verjaarsdag, is buiten ‘n partytjie, ook as ‘n inligtingsessie en pretdag by Laerskool Helderkruin gevier.

Hy en die skool het besluit om eerder die fokus op verskeie vorme kinderkanker te plaas as op sy eie lewe en omstandighede. Die verrigtinge het reeds vroegoggend in die skoolsaal begin, waar ‘n verteenwoordiger, Adri Ludick, van die Childhood Cancer Foundation South Africa (Choc) met leerlinge gesels het oor kinder kanker.

Dit was vir Ludick belangrik om verskillende vorme daarvan uit te ken, Joshua se Ewing sarcoma te bespreek en dit by leerlinge by te bring dat buiten die siekte, ‘n jong kankerpasiënt ‘n maatjie is wat nooit anders hanteer moet word as ander maatjies nie.

“As julle vanaand op julle knieë gaan, moenie vergeet om vir kinders met kanker te bid nie,” het sy haar praatjie beëindig.

Volgende op die beurt was ‘n hoogswanger Sorina Erasmus, wie aan meeste mense as die Flooze bekend is, en sy het die kinders bekoor met haar liedjies. Sy het verder ‘n pragboodskap aan Joshua gelewer en was voorsanger toe hulle ‘Veels geluk’ sing. Sy het ook die leerlinge laat skaterlag toe sy drie van die manspersoneel uitsonder en ‘n kuitspierkompetisie op die verhoog hou. Die hoof, Chris Schutte, is aangewys as die man met die beste kuite. Sy het Joshua se ma Francesca en ouma Mary Lourenco as eregaste uitgesonder, en geprys vir hul moed en bystand in sy stryd.

In die saal het Mengelmoes Media, wat ‘n dokumentêr oor Joshua se stryd met kanker skiet, ook videos met boodskappe van bekendes soos Blackbyrd, Jakkie Louw en Carike Keuzenkamp vir die gehoor gespeel. Daarna is almal uit rugbyveld toe, waar elke leerling ‘n geel ballon met sy of haar gebed vir kinders met kanker in die lug vrygelaat het.

Joshua en sy klasmaats is met kolwyntjies bederf en hy het by die onderwysers, onder andere, ‘n tablet en die Diary of a Wimpy Kid-boekreeks ontvang, waaroor hy baie opgewonde was.

Yolandi de Jongh van Kruiner Kleuters word bedank vir haar borgskap van die ballonne en kolwyntjies.

Vir meer inligting of om by die dokumentêr vir bewusmaking betrokke te raak, besoek www.joshuasjourney.co.za of kontak Hendré van der Berg by 082 789 9355.

Verwante artikels:

Help Joshua share his journey

A few hours left to help Joshua

Joshua doing well, but campaign hit a snag

 

Related Articles

Back to top button