Bothma slaan boeremusiek toekenning los

Deur die dag werk hy met syfers maar snags en oor naweke maak hy boeremusiek.

‘n Inwoner se liefde vir boeremusiek is erken by die jaarlikse South African Traditional Music Achievement (Satma) toekenningsaand onlangs.

Hans Bothma, 65, het die toekenning gewen vir die Beste Boeremusiek album met sy nuwe CD, Langarm Boerejol.

Benewens President Jacob Zuma en ander BBPs, het ander internasionale bekendes soos die VSA president Barrack Obama se ouma Sarah uit Kenya, Samia Nkrumah uit Ghana en selfs Ilyasah Shabazz, dogter van Malcolm X die geleentheid bygewoon.

Bothma is welbekend as een van die land se bekwaamste konsertinaspelers. Volgens hom is die album “‘n moderne boeremusiek album met vars nuwe verwerkings van bekende nommers”.

“Die album sal so reg in die smaak van elke liefhebber van moderne Boeremusiek val,” het hy gesê.

Hans het ‘n gedeelte van die treffers self verwerk. Twee van die komposisies op die album is sy eie. Dit is finaal verwerk deur Jaco van Deventer, bekend as ‘n oudlid van Beeskraal Orkes en die beoordelaar op KykNet se onlangse Varstrap musiekprogram. Die CD is uiteindelik deur Bushveld Media vrygestel en sal binnekort op beide Takealot.com en iTunes beskikbaar gestel word. Langarm Boerejol is sy derde album, maar die eerste een wat hy saam met ‘n bekende maatskappy uitreik, vertel hy.

Hans bespeel al meer as 40 jaar instrumente, onder andere konsertina en kitaar. Deur die dag is hy finansiële direkteur by West Rand Engineering in Krugersdorp en beklee nou al die posisie vir 27 jaar. Hy beskou musiek as ‘n lekker stokperdjie, maar geniet ook om die rugby saam met sy gesin te kyk, alhoewel die helfte die Blou Bulle en die ander helfte die Goue Leeus ondersteun.

Hans is in Pretoria gebore maar bly nou al sedert 1975 in Wilropark en spog met ‘n dogter, twee seuns en drie kleinkinders.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 414 6709.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version