Oud-Florrie hoof was ‘’n ware gentleman’

Hy is Maandag 4 Mei op die ryke ouderdom van 78 aan pankreas kanker in hul woonstel in Noordheuwel oorlede, maar is eintlik in Groot Marico, Noord-Wes gebore en getoë, vertel Sophy.

Eers was dit sy vrou Sophy maar later ook haar vriende en familie wat in die sitkamer Hoërskool Florida se voormalige hoof, Hennie Diederiks, lof toeswaai.

Hennie is op 8 Februarie 1937 gebore. Sophy, self ‘n voormalige onderwyseres by Laerskool Florida en Laerskool Gustav Preller, het Hennie op universiteit ontmoet. Hulle is getroud en het in 1979 die plaas Klein Eden gekoop.

“Ons vriende het ons altyd geterg en gesê ons moes dit Groot Eden genoem, maar vir ons was dit ons eie klein paradys.”

Dit is waar die paartjie en hul drie seuns Jaco, Franco en Werner heerlike tye met die diere, waarvoor hy so lief was, deurgebring het. In 1998 verhuis hulle na die Wes-Rand waar hulle skoolhou geniet het. Vandag is dit ‘n gasteplaas.

“Hennie het met sy neus in wiskunde- en wetenskapboeke gesit en ek met myne in storieboeke,” vertel Sophie met ‘n hartseer glimlag.

“Hy het absoluut vir díé vakke geleef en het menigte leerlinge daarmee by Hoërskool Florida as onderwyser, visiehoof, adjunkhoof en later skoolhoof gehelp.”

Hy het in 1992 op 55-jarige ouderdom afgetree. Op 30 Junie sou hulle 53 jaar getroud wees. In Januarie vanjaar het hy ‘n kolon operasie ondergaan om kanker te verwyder waarna die dokters met Sophy en sy seuns die nuus gedeel het.

“Daar was niks wat hul verder vir hom kon doen nie. Ons seuns het gesukkel om dit te aanvaar.”

In Februarie het hul die woonstel waarin sy met die Record gesels deur vriende bekom en hier, sê sy, het dit moeilik gegaan.

“Ek wil die laaste langnaweek nooit weer herleef nie,” het sy gesê.

Gedurende die onderhoud met die Record het haar kinders, kleinkinders en jarelange vriende Dennis en Tienie Carson opgedaag.

Dennis het vertel dat sy oudste broer oorlede is toe hy skaars 18 geword het, en dat Hennie oor die jare soos ‘n boetie vir hom geword het.

“Met hom kon jy oor enigiets gesels; hy was geliefd onder almal en laat beslis ‘n groot leemte in ons lewens,” het Dennis gesê.

Hennie word onthou as ‘n wonderlike, saggeaarde mens; ‘n nederige man en “’n ware gentleman”, het Sophy vertel.

By die skool was hy betrokke by die rugbyspanne en die skool se destydse skietspan, en in sy vrye tyd het hy model ossewaens en perdekarre uit hout gebou.

Hennie word oorleef deur sy vrou Sophie, sy drie seuns, hul lewensmaats, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Van hul pa het een van die seuns geskryf, “Hy was die soort pa wat enige kind van kon droom en begeer. Al sou jy geen Bybel besit nie, sou jy die Bybel uit sy lewenswandel teenoor mense en diere kon lees.”

Die familie sal hom op Saterdag 9 Mei saam met die NG Gemeente Groot Marico vir oulaas groet en begrawe op Klein Eden.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version