Florida skutte dans vir toergeld

Drie van Hoërskool Florida se skyfskiet uitblinkers is gekies om binnekort in Londen te gaan deelneem, maar het finansiële bystand nodig.

Leerlinge Celesté Alberts, Jané van Geems en Eduan Branders is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie (SANSSU) aangewys as deel van hul Nasionale Skietspan. Hulle sal dié span in Londen gaan verteenwoordig tydens die Britse Junior Internasionale Skietkompetisie.

Volgens ‘n SANSSU-skrywe beloop die kostes verbonde aan die toer ongeveer R39 000 per persoon. Dit sluit ‘n retoerkaartjie vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe, alle etes, verblyf, bankkostes, lapelwapens, ‘n rugsak en toersak sowel as inskrywingsgelde en toegangsgelde vir uitstappies en vervoer in Londen in. Op die toersak sal elkeen se nommer aangebring word en die SANSSU wapen sal daarop borduur word.

Die kostes maak ook voorsiening vir die onvoorsiene, lees die skrywe. Die leerlinge het tot en met 3 Junie vanjaar om die gelde finaal in te betaal voor hulle die Britte aandurf. Die toer skop 5 Augustus af.

Om hul fondse aan te vul het die ouers saamgestaan om ‘n fondsinsamelingsdans te reël wat Saterdag 9 Mei om 5.30nm plaasvind. Ingang kos R50 per persoon. Dit sal by die Florida Skietklub op die hoek van 9de Laan en Louis Bothalaan in Florida Park gehou word.

Vir verdere inligting skakel Elize by 078 473 4628.

Exit mobile version