Laaste van die bloubloed-onderwysers

Dié hoof glo nog onderwys is 'n roeping.

In ‘n tyd wat daar die persepsie bestaan dat onderwys in Suid-Afrika in ‘n krisis staan, gee Leon Visser, hoof van ‘n plaaslike laerskool, mens hoop.

Leon wat reeds 11 jaar aan die skool in Witpoortjie as hoof verbonde is het sy loopbaan kort na sy diensplig in 1983 begin. Reeds as kind het sy kop na die beroep, wat hy nie ‘n beroep maar liewers ‘n roeping noem, gestaan.

“Nee kyk. Dit is beslis ‘n roeping. Of jy is 100 persent in of glad nie. As jy nie is nie gaan jy dit nie maak nie,” sê hy met besliste oortuiging. Hy lag as hy sê dat hy nog nooit regtig ‘ryk onderwysers’ ontmoet het nie maar voeg vinnig by dat die werksbevrediging en die wete dat jy ‘n verskil maak daarvoor opmaak.

“Om te weet elke besluit wat jy maak raak die lewens van om en by ‘n 1000 huisgesinne hou jou nederig. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Die groot beloning lê natuurlik daarin wanneer ek op die skoolterrein loop en die liefde van die leerlinge voel. Ek dink nie ek sal ooit daaraan gewoond raak nie,” sê Leon en jy weet die man leef vir sy skool en gemeenskap.

“Ek kan nêrens in die land op vakansie gaan of selfs diep in die branders staan sonder dat ek nie ten minste een maal ‘n stemmetjie hoor wat roep ‘hello meneer Visser’,” sê hy en lag ruim.

“Na 32 jaar in die onderwys is dit natuurlik ook ongelooflik om nou die lewens van kinders se kinders waarvoor ek skool gegee het mee te maak. En ek kon ook ervaar hoe die skool nie net saam met die gemeenskap en omgewing maar ook die land en sy geskiedenis gegroei het.”

Leon sê daar bestaan ‘n groot mispersepsie dat onderwys ‘half-dag’ werk is.

“Kyk, ek loop 7vm hier in. Dan is dit ‘n vergadering met die adjunkte, dan ‘n vergadering met die personeel. Half agt begin die skool dan is dit afsprake, departementele besoeke, administratiewe sake, na-skoolse aktiwiteite soos sport en kultuurvertonings en tussendeur is jy pa, sielkundige, onderwyser, finansiele adviseur en sommer noodhulppraktisyn ook,” sê Leon “ja ek werk half-dag, ten minste 12 ure!”

As dit kom by die uitdagings rondom ‘n sukses van die skool maak is Leon vinnig om uit te wys dat die mense rondom die wenresep is.

“Ek is verskriklik bevoorreg om deur ‘n puik onderwyskorps, positiewe ondersteunende ouers en leerlinge en beheerligaam bygestaan te word. Jy kan nie alleen die hoof van ‘n skool wees nie. Die sukses van ons skool lê daarin dat al die belanghebbendes die skool as ‘ons skool’ sien. Van die leerlinge en ouers tot by die onderwyspersoneel en tuiniers het die skool hulle eie gemaak,” vertel Leon met trots.

Volgens hom is die grootste uitdaging vandag hoe om relevant te bly met die hulpbronne wat hulle het in ‘n wêreld wat daagliks op sy kop gekeer word deur snelveranderende tegnologie en selfs ‘n vinger veranderende sosiale landskap.

“As ek na die graad eentjies kyk dan weet ek en my onderwysers ons taak is om hierdie kleintjies voor te berei vir wanneer ons nie meer ‘n aandeel in hulle lewens gaan hê nie. Dis hoekom ek daardie eerste jaar die wonderwerkjaar noem. Al hierdie rou bondeltjies vir wie jy een jaar het om die fondament te lê wat ‘n invloed op die res van hul lewens gaan hê.”

As dit by disipline-kwessies kom glo Leon vas dat die skool en die ouers gelyke venote is en dat as daar respek by die huis vir onderwysers is dit by die skool sal manifisteer. Hy maan ook dat die grootste geskenk wat ouers hulle kinders kan gee is om hulle onvoorwaardlik lief te hê en nie hulle eie drome deur hulle kinders te probeer bewaarheid nie.

Maar wat doen die hoof as hy die slag vrye tyd het?

Weer lag hy. “Ek het nie eintlik vrye tyd nie en ook nie tyd vir stokperdjies nie. As ek wel het is ek maar soos enige ander Suid-Afrikaner. Hou van sport kyk op televisie, kuier en braai saam met vriende en familie en natuurlik vakansie hou by die see,” en voeg hy vinnig by “en ek hou van biltong.”

Wanneer jy groet wens jy half jou tydjie in die hoof se kantoor was nie so gou verby maar weet jy ten minste in die gemeenskap is ons kinders in goeie hande.

Exit mobile version