Florrie ‘n skaakster

Graad 6 Florrie Keola Jonker is 'n bobaas skaakspeler en het dit bewys met haar onlangse prestasies in die sportsoort, insluitend 'n 11de plek as SA Junior skaakspeler.

Sy het vroeg Maart aan die Johannesburg Metro Chess Open toernooi deelgeneem wat by Trinity House in Randpark Ridge gehou is. Sy het in die C-afdeling, vir leerlinge met ‘n gradering van tot en met 1050, meegeding. Uit ses rondtes het sy vyf gewen en een gelykop gespeel. Sy het met 5.5 punte sowel as prysgeld aan die einde van die toernooi weggeloop en het eerste plek behaal. Sy is ook met ‘n medalje beloon.

Op 21 Februarie het Keola ook aan die Johannesburg Metro Chess Open by Trinity House in Little Falls deelgeneem, waar sy die keer sewende plek behaal het in haar afdeling. Sy is as beste meisie speler gekies en met ‘n medalje beloon.

Ook by die South African Junior Chess Championships in Kimberley het sy derde plek verwerf en gekwalifiseer om aan die SA Junior Closed toernooi in Pretoria deel te neem. Van 2 tot 11 April het sy in Pretoria meegeding in die hope om as een van die top 10 spelers gekies te word, wat dan kwalifiseer vir die SA-span.

Ongelukkig het Keola net-net die SA-span gemis met haar 11de plek, maar skoolwoordvoerder Janine Birkenstock vertel die skool is geweldig trots op haar.

Haar ma Ilet het later op facebook geskryf dat hulle dankbaar en verryk van die toernooi af teruggekeer het.

“Dit was ‘n ongelooflike reis,” het sy geskryf.

“Ons is almal vreeslik trots op haar volharding en moed.”

Ilet het hul vriende en familie bedank vir hul wense en liefde en spesiale dank gegee aan Christiaan Ernst Erasmus, Mia Engelbrecht, Paula Jones, Vivienne Brown en Tony Martins wat Keola bygestaan het gedurende die kompetisies.

Op Facebook: [https://www.facebook.com/photo.php?fbid=10152931677334965&set=a.10150241083049965.329076.762749964&type=1]

 

Exit mobile version