Forum maak stem dik by Burger

Gemeenskap sê genoeg is genoeg.

‘n Vyftien-stuks bekommerde ouers en gemeenskapslede van die Whiteridge-area het vanoggend met verteenwoordigers van die Gauteng Departement van Onderwys (GDO) asook die leierkorps van Hoërskool die Burger vergader.

Die dringend vergadering is belê om ‘n memorandum van dié forum se griewe rakende leerlinge van die skool onder die aandag van die skool te bring en oplossings te vind. ‘n Petisie van die gemeenskap wat die memorandum ondersteun is ook oorhandig.

Die Record is aanvanklik toegang tot die vergadering geweier maar is tog op aandrang van die forum toegelaat.

Volgens die voorsitter van die forum, Bruno Ragghianti probeer die gemeenskap reeds jare lank al met die skool vergader om die euwels uit te roei.

Die verteenwoordiger van die GDO, Mish Tshabalala het die forum bedank vir die positiewe wyse waarop hulle die saak hanteer en onder die skool se aandag gebring het. Daar was duidelike misnoeë te bespeur onder sommige van die die forumlede toe Tshabalala aankondig dat hy en die hoof, Basie Smit nie lank sou kon vertoef aangesien hulle ‘n ander vergadering moes bywoon.

‘n Vriendelike dog ferm Ragghianti het op sy beurt in sy openingstoespraak daarop gewys dat passiwiteit daartoe lei dat die leerlinge in kriminele omskep word. Voor hy die memorandum aan Smit oorhandig het, het hy vir hom gesê dat die forum die skool op ‘n positiewe wyse wil ondersteun en mee saam werk.

In ‘n vurige pleidooi het Smit gesê dat die gemeenskap en die ouers die skool gefaal het en aangevoer dat die probleme bestaan aangesien daar geen betrokkenheid van die ouers by die bestuursliggaam is nie.

Volgens die memorandum is die forum se grootste bekommernis die swak dissipline by die skool en die feit dat ‘n groot aantal leerlinge gedurende skooltyd vir kwaadgeld in die strate rondhang.
Spesifieke insidente is aangehaal wat insluit:

• Leerlinge wat in die openbaar dagga rook
• Leerlinge wat in die openbaar alkohol gebruik
• Leerlinge hang in die omliggende parke, winkels en op die straathoeke rond
• Leerlinge gebruik oop en bloot dwelms op die sypaadjies voor inwoners se huise
• Die belhamels se vulgêre taalgebruik
• Inwoners wat hulle aanspreek wor geintimideer
• Leerlinge beinvloed die laerskoolleerlinge van ‘n naburige skool om sigarette te rook en alkohol te gebruik
• Leerlinge speel ‘chicken’ met motors

Die forum het onder andere die volgende voorgestel:

• Groter betrokkenheid van ouers by die skool
• Sisteme moet in plek gestel word om swak dissipline meer effektief reg te stel
• Die Florida Polisie moet gereeld leerlinge en hulle tasse deursoek vir wapens en dwelms

Tshabalala het aangedui dat die skool en GDO teen 16 Maart die pad vorentoe sal aandui.

Exit mobile version