Sibbe nie beïndruk met laks polisie

Slagoffers hoor niks van polisie.

Twee sibbe van Roodekrans, Adelé en Eben Britz, is nie beïndruk met die Roodepoort polisie se optrede, nadat hulle en hul ma met vuurwapens aangehou en beroof is.

Adelé en Eben vertel hoe hulle in die vroeë oggendure van 6 Februarie deur twee mans vasgebind en met vuurwapens aangehou en beroof is. Eben het die oggend omstreeks 5.30vm die werksbakkie uitgetrek en voor die huis gaan parkeer. Twee mans het verby geloop en hy het hulle hoflik gegroet. Toe hy egter by die voordeur in is het dieselfde mans ook ingekom. Hy, sy susie en hul ma is met skoenveters vasgebind en waardevolle items soos die televisiestel, mikrogolfoond, werksgereedskap asook die bakkie is gebuit. Toe die mans vlug het Eben homself los gemaak en na die Roodekrans buurtwag se radiokamer wat ‘n paar honderd meter vêr is gehardloop. Hier het hy patrolliemotors van beide die Apcan en DMS sekuriteitsmaatskappye aangetref. Die patrolliemotors het onmiddelik ‘n soektog vir die gesteelde bakkie begin en ook die polisie in kennis gestel.

Adelé sê egter dat die polisie eers twee ure later opgedaag het en nie baie entoesiasties was nie.

“Hulle was ongeskik, bot en het nie eens gegroet of na ons welstand gevra nie. Dit was duidelik dat hulle net hier was om ‘n salaris te trek,” sê Adelé.

Die forensiese deskundiges het eers vyf ure later opgedaag en die span van twee het glo aan die Britze gesê dat hulle oorwerk is aangesien hulle die enigste span is wat die area so vêr as Honeydew, Randfontein en Westonaria moet bedien.

Adelé sê sy was baie beïndruk met die sekuriteitspatroleerder van Apcan wat verskeie kere die dag by haar kom stop het om na haar welstand te vra.

Die Maandag het die eienaar van die bakkie ‘n berig opgemerk in die media van ‘n sigaret trok wat in die Suide van Johannesburg gekaap is en sy bakkie in die foto herken. Hy en Eben het deur gery na die Mondeor polisiestasie en eers daar uitgevind wie die adjudant offisier is wat hulle saak ondersoek.

Daar is toe bepaal dat dit wel sy bakkie is.

‘n Sekuriteitsmaatskappy wie se span op die toneel van die kaping was, wat op ‘n einde geloop het na ‘n wilde jaagtog en skietery, het aan die Britze fotos gewys en hulle kon een van die verdagtes positief as een van die mans wat hulle beroof het identifiseer. Die polisie het die afgelope twee weke egter nog geen kontak met hulle gemaak of terugvoer gegee.

“Ek het die stasie al ‘n paar keer geskakel om terugvoer te kry maar die ondersoekbeampte is nooit daar nie. Dit is pateties dat ons en die sekuriteitsmaatskappy die twee insidente kan verbind maar die polisie blyk belangeloos te wees,” sê Adelé.

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Exit mobile version